|

Hof wys Bizos-appèlaansoek van die hand

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)
Klankgreep: Barry Bateman (Engels)

Die Johannesburgse-landdroshof het Alexi Bizos se aansoek om verlof tot appèl van die hand gewys en ’n kostebevel ten gunste van die eenheid toegestaan. Dit volg ná Bizos in Februarie vanjaar ’n boete van R100 000 opgelê is (of een jaar gevangenisstraf) en ses maande korrektiewe toesig, wat gemeenskapsdiens van 20 uur per maand by skuilings vir mishandelde vroue insluit.

Die seun van die ontslape stryder vir menseregte George Bizos is in Julie verlede jaar skuldig bevind op ’n aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer op sy eksvrou, Monique van Oosterhout. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het namens Van Oosterhout die saak, wat in 2018 ’n aanvang geneem het,  privaat vervolg.

Landdros Tshepo Twala het in Februarie vanjaar tydens die vonnisoplegging gesê dat Bizos geen berou vir sy dade toon nie en versuim het om die onregverdigheid van sy optrede te erken. Twala het verder gesê dat die beskuldigde geen insig getoon het in die misdaad wat hy gepleeg het nie en ook nie kon insien wat die impak daarvan op Van Oosterhout is nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het op Vrydag, 16 Mei aangevoer dat geen ander hof sy weergawe van gebeure as redelik moontlik waar kan beskou nie.  Die landdroshof het die beskuldigde se weergawe verwerp en hom beskryf as ʼn  “swak getuie” wie nie “’n goeie indruk gelaat het nie” en wie sy weergawe gefabriseer het.

“Ons herhaal ons argument dat die leuenagtigheid van die beskuldigde sonder gelyke is. Sy houding was minagtend jeens die waarheid en aanduidend van iemand wat verwag dat sy woord sonder skroom aanvaar moet word weens sy posisie. Hy is net meer gelyk as ander,” sê Nel. Hy het bygevoeg dat Bizos se bewering dat die landdros slegs gespekuleer het toe hy sekere bevindinge gemaak het ook minagtend was.

Landdros Twala het ook Vrydag beveel dat die privaatvervolgingseenheid se aansoek om koste toegestaan moet word en dat die beskuldigde en die Nasionale Vervolgingsgesag gesamentlik verantwoordelik moet wees vir die betaling van die koste vir die verhoor insluitende die koste vir die aansoek om verlof tot appèl.

Barry Bateman, woordvoerder vir die privaatvervolgingseenheid, sê dat die uitspraak verder bevestig dat geen ander hof Bizos se weergawe van gebeure sal glo nie. “’n Beskuldigde wat selfverdediging as sy regverdiging aanvoer moet die hof kan oortuig dat sy weergawe van gebeure redelik moontlik waar is. In hierdie geval het die hof bevind dat Bizos ’n swak getuie was en besonderhede oor die gebeure gefabriseer het wat die aand plaasgevind het toe hy sy eksvrou geslaan het. Die besluit herbevestig die toewyding van AfriForum se privaatvervolgingseenheid om geslagsverwante misdade hok te slaan.”

“Dit bevestig ook private vervolging se strewe om selektiewe vervolging teen te werk sodat mense nie aanspreeklikheid kan vryspring weens hul status nie. Ons hoop dat die NVG ook nou sal besef dat hulle voortslepende pogings om individue teen vervolging te beskerm nie ongestraf verby sal gaan nie,” sluit Bateman af.

Soortgelyke plasings