Hof stuit Eskom en Nersa se R54 miljard-skikking, bevestig openbare deelnameregte
Die Hooggeregshof in Pretoria het gister Eskom en die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) se poging om die kragvoorsiener se tariefgeskil agter geslote deure te skik, verwerp. Dit volg nadat ’n voorgestelde skikking van R54 miljard tussen die twee entiteite gepoog het om ’n fout in Eskom se toelaatbare inkomstebepaling reg te stel sonder die voorgestelde ondersoeke, behoorlike openbare deelname of terugverwysing na Nersa. Die hof het Nersa se oorspronklike inkomstebesluit hersien en tersyde gestel en geweier om die skikkingsooreenkoms ’n hofbevel te maak.
AfriForum het in Oktober by hierdie saak ingegryp nadat Eskom se oorspronklike hofaansoek vir ’n hersiening van Nersa se besluit rakende Eskom se veeljarige tariefbepalingsaansoek skielik in ’n skikkingsooreenkoms omskep is. Die skikking sou Eskom toegelaat het om ongeveer R54 miljard van kragverbruikers te verhaal deur middel van aansienlike tariefverhogings, sonder behoorlike ondersoek of betekenisvolle openbare deelnameprosesse.
In sy uitspraak het die hof bevind dat Nersa se inkomstebesluit onwettig en irrasioneel was én op wesenlike berekeningsfoute gebaseer was. Die hof het ook die idee verwerp dat Eskom en Nersa hierdie foute kon regstel deur ’n geheime skikking wat openbare ondersoek en deelname omseil. Die hof het bevestig dat besluite oor kragtariewe alle Suid-Afrikaners raak en dat deursigtigheid en openbare deelname ononderhandelbare komponente van wettige regulering is.
AfriForum het Nersa se eie redenasie vierkantig voor die hof geplaas, insluitend Nersa se erkenning dat een van die vermeende voordele van die skikking was dat dit die partye sou bind en sou verhoed dat die besonderhede in die hof openbaar gemaak word, wat verdere ondersoek en die moontlikheid van ’n verreikende hofbevel sou beperk. Die hof het hierdie benadering uitdruklik gekritiseer en bevind dat dit strydig is met openbare beleid, grondwetlike beginsels en die statutêre raamwerk wat elektrisiteitsregulering beheer.
“Hierdie uitspraak bevestig dat Nersa nie stilweg die regte van kragverbruikers kan onderhandel om homself van aanspreeklikheid te beskerm nie,” sê Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum. “Die hof het dit duidelik gestel dat gerief nie geheime skikkings kan regverdig wat die publiek met miljarde in bykomende koste sal belas nie.”
Die hof het verder gelas dat die saak terugverwys word na Nersa vir heroorweging, met inagneming van behoorlike metodologie en skriftelike voorleggings en het beklemtoon dat die afwesigheid van openbare deelname aan die skikkingsproses fundamenteel gebrekkig was. Daar is bevind dat AfriForum en die Mineraleraad van Suid-Afrika ’n direkte en wesenlike belang in die saak gehad het, geregtig was om in te gryp en dit suksesvol gedoen het. Eskom en Nersa is gevolglik opdrag gegee om AfriForum en die Mineraleraad van Suid-Afrika se regskoste te betaal.
“Dit is ’n mylpaaluitspraak vir kragverbruikers,” voeg Mostert by. “Dit stuur ’n duidelike boodskap dat Nersa en Eskom nie bo die wet verhewe is nie en dat besluite wat kragtariewe beïnvloed, deursigtig, wettig en met volle openbare deelname geneem moet word. AfriForum sal voortgaan om as ’n waghond op te tree om te verseker dat Suid-Afrikaners nie gedwing word om die prys vir regulatoriese mislukking te betaal nie.”



