AfriForum en die AmaQwathi loods Nomakhosazana-bokprojek, teken ooreenkoms

AfriForum en Nkosi Zweloxolo Stokwe van die AmaQwathi-kultuurgemeenskap het vandag op die Prinses Emma Sandile Plaas in die Cala-omgewing in die Oos-Kaap die Nomakhosazana inheemseveldbok-inkubasieprojek afgeskop. Met ’n aanvangskudde van 21 Nguni-inheemseveldbokke en opleiding in bokboerdery wat aan die plaaslike kleinboere, Nkosi Zweloxolo en sy span gebied is, is die doel van dié gesamentlike landbou-ontwikkelingsprojek om plaaslike kleinboere met kennis en vaardighede toe te rus om bestaans- en kleinskaalse boerderye te ontwikkel tot winsgewende ondernemings. Die kudde is ook daar gestel sodat dit mettertyd tot ’n volhoubare bokboerdery sal ontwikkel en bokke met goeie genetika sal lewer om verdere ontwikkelingsprojekte op voetsoolvlak te loods. AfriForum en die AmaQwathi het ook ’n wedersydse erkenning- en samewerkingsooreenkoms tydens die geleentheid onderteken.
“Die beskerming en uitbou van kulturele identiteit en die verbetering van die sosio-ekonomiese omstandighede van die AmaQwathi tradisionele gemeenskap is vir my baie belangrik,” sê Nkosi Zweloxolo. “Ek is daarom opgewonde oor die potensiaal vir positiewe ekonomiese impak van hierdie gesamentlike projek. Ons glo dat die oordrag van kennis en vaardighede en die verbetering van genetika oor die langtermyn die lewensomstandighede van ons gemeenskappe sal verbeter. Daar is geen kitsresep vir ekonomiese ontwikkeling nie, dit word tree vir tree gebou; vandag het ons nog ’n belangrike tree gegee. Ons is dankbaar vir vennote en medewerkers soos AfriForum wat met ons saamwerk om ons gemeenskappe meer selfstandig te maak, en dit was ’n voorreg om ons verhouding vandag deur middel van ’n ooreenkoms te formaliseer. Ons sien uit na die suksesvolle uitvoering van hierdie projek en ook ander gesamentlike inisiatiewe tot voordeel van gemeenskapslede op voetsoolvlak,” voeg hy by.
“Daar is verskille tussen kultuurgemeenskappe, maar ons kies om saam te werk aan sake waaroor ons saamstem om sodoende ’n positiewe impak op voetsoolvlak te maak. Dit is juis wanneer verskillende kultuurgemeenskappe saamwerk dat wedersydse begrip en vertroue gebou word. Dit is ’n groot voorreg vir AfriForum om ’n vennoot van die AmaQwathi te wees en ons is dankbaar vir die ondersteuning van BKB in Khowa, wat gehelp het om die projek moontlik te maak. Dit dien as bewys dat ’n mooi toekoms vir die kinders van die land moontlik is wanneer kultuurgemeenskappe op grond van wedersydse erkenning en respek saamwerk om gemeenskappe in staat te stel om hul lewensomstandighede te verbeter en meer selfstandig te word,” sê Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum.
“’n Netwerk van kultuurgemeenskappe wat mekaar wedersyds erken, ondersteun en saamwerk is besig om al sterker te word. Ons is dankbaar dat ons naas medewerkers wat fokus op gedeelde belange, ook medegelowiges kan wees. Gemeenskappe en hul leiers besef dat ons lotsgebonde is en waardes deel – dit maak samewerking op ’n gesonde grondslag moontlik,” sê Barend Uys, hoof van Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.
“Ons is baie trots daarop dat die bokooie vir hierdie projek deur Kgosi Moroka Farming, van Thaba’Nchu, gelewer is. Dit is sprekend van die sukses van daardie gesamentlike projek en van die harde werk en toewyding van prins Motlotlegi en sy span op die plaas Blijdskap,” sê Nantes Kelder, nasionale projekkoördineerder vir Interkulturele verhoudings en samewerking by AfriForum.
AfriForum en Nkosi Zweloxolo het in November 2025 begin saamwerk met die aanbied van opleiding vir die kweking van saailinge in die Mtingwevu-gemeenskap in samewerking met die Adopt-A-Village Landelike Voedselsekerheidsinisiatief. AfriForum is by beide hierdie en ander landbou-ontwikkelingsprojekte betrokke deur middel van die Resilient Regenerative Agricultural Initiative (RRAIN), ’n landbou-ontwikkelingsinkubator wat ’n gesamentlike inisiatief van AfriForum en Saai is.
“Ons het hierdie projek vernoem na my suster, prinses Nomakhosazana Stokwe, wat hard gewerk het om hierdie projek ’n werklikheid te maak. Ons eer haar nagedagtenis,” sluit Nkosi Zweloxolo af.



