Man wat hardloper raakry nou van moord aangekla ná AfriForum-privaatvervolgingseenheid ingryp
Thabang Ndlovu het vandag vlugtig in die Orlando-landdroshof verskyn waar dit bevestig is dat hy nou teregstaan op ’n aanklag van moord ná hy Dezireè du Plessis in November verlede jaar tydens die Soweto-marathon raakgery het. Du Plessis het op 12 Desember 2025 aan haar wonde beswyk. Ndlovu is voorheen van strafbare manslag aangekla, maar ná AfriForum se privaatvervolgingseenheid in Januarie vanjaar aan die senior aanklaer geskryf het om die erns van die saak te beklemtoon, is die klag aangepas.


Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, en lede van dié eenheid het Du Plessis se ma en suster, Saskia Barker en Marijke Miller, na die hof vergesel. Lede van die Bobbies-hardloopklub, waaronder afgetrede generaal-majoor Sharon Schutte, wat aan die stuur van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se eenheid gemoeid met ernstige en gewelddadige misdaad gestaan het tot haar aftrede in 2012, het ook hul ondersteuning aan Du Plessis se familie verleen. Du Plessis se ouers was beide deel van die SAPD.

Ná die hofverrigtinge het Miller gesê dat sy hoop dat die regsproses sy gang sal gaan en dat geregtigheid vir Du Plessis sal geskied. “Dit laat mens met kwade gevoelens, ’n gevoel wat jy nie kan beskryf nie, omdat jy weet jy gaan haar nooit weer sien nie.”
Die voorval het plaasgevind ná Ndlovu op 29 November verlede jaar verskeie verbale en fisiese waarskuwings van verkeersbeamptes geïgnoreer het en ’n afgesperde area binnegery het. Verskeie hardlopers wat aan die Soweto-marathon deelgeneem het, moes voor die voertuig vlug en Ndlovu het Du Plessis toe na bewering raakgery.

“Dis ’n oorweldigende gevoel wat mens het om te voel daar is mense wat agter jou staan, wat agter Dezzie staan. Dis net ’n onbeskryflike gevoel van dankbaarheid wat ons het dat AfriForum ook hierby betrokke is en ons help om hierdie saak voort te voer. Vir ons as familie beteken dit ongelooflik baie om julle bystand en die Bobbies se bystand te hê. Ons kan dit nie sonder julle doen nie,” het Miller bygevoeg.
Volgens Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sal hulle die saak noukeurig moniteer en Du Plessis se familie gedurende die strafregproses ondersteun. “AfriForum se privaatvervolgingseenheid is tevrede dat die SAPD en die Nasionale Vervolgingsgesag genoegsame aandag aan hierdie saak gee, veral ná die positiewe terugvoer op ons argument dat die beskuldigde van moord eerder as strafbare manslag aangekla behoort te word.”
“Deeglike ondersoeke lei tot sterk sake en sterk sake lei tot skuldigbevindings. Sonder skuldigbevindings sal die ongebreidelde wetteloosheid op die land se paaie voortduur. ’n Onskuldige ma, wat saam met duisende ander hardlopers aan ’n aktiwiteit deelgeneem het wat sy geniet het, se lewe is kortgeknip as gevolg van ’n algehele minagting van die wet. Daar moet ernstige gevolge vir hierdie soort optrede wees,” sluit Bateman af.
Die saak is tot 27 Maart 2026 uitgestel vir verdere ondersoek. Hoewel die beskuldigde borg van R8 000 toegestaan is, het hy dit nie betaal nie en bly hy dus in aanhouding.



