GOP: Durban en Amanzimtoti se water- en rioolnetwerke kort dringend aandag, sê AfriForum
Die AfriForum-takke in die Durban-omgewing versoek die eThekweni Metropolitaanse Munisipaliteit om Durban en omliggende dorpe se onstabiele water- en rioolnetwerke ’n prioriteit in die nuwe finansiële jaar 2025/2026 te maak. Die toestand van sekere strate in die eThekweni munisipale gebied is ook ’n teer saak, wat dringende aandag moet geniet. Die Durban- en Amanzimtoti-takke het op 31 Maart hierdie skriftelike voorstelle met betrekking tot dienslewering op die eThekweni-metro se jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP) ingedien.
AfriForum het in die GOP ook aangebied om ’n gevorderde pompkontrolestelsel by die rioolpompstasie in Ashwell-weg in Warner Beach te installeer om die gereelde rioolstorting te voorkom. Die pompstasie gee al vir die afgelope vyf jaar probleme.
Ander KwaZulu-Natalse takke het al in die verlede sukses behaal met van sy voorstelle wat in die munisipaliteit se GOP opgeneem en afgehandel is, waaronder een van Vryheid se swak paaie wat herbou is. “Dit is dus belangrik dat takke aan die GOP-proses deelneem om voorstelle in te dien wat sal bydra tot ontwikkeling in hul gemeenskappe,” sê Eugene van Aswegen, AfriForum se provinsiale koördineerder vir KwaZulu-Natal.
Dienslewering
Die gemeenskappe in Durban en Amanzimtoti ervaar al vir die afgelope paar jaar die gereelde sluiting van strande weens rioolbesoedeling, wat ’n geweldige uitwerking op toerisme in die omgewing het. Die rioolbesoedeling veroorsaak ook erge implikasies vir die ekonomie aan die KwaZulu-Natalse Suidkus. Sommige ondernemings moes hul deure permanent sluit weens die finansiële implikasies van toeriste wat voortdurend hul vakansies soontoe kanselleer. Die rioolbesoedeling is as gevolg van swak instandhouding en vloedskade daarom moet die metro pa staan vir sy onvermoë om na die water- en rioolnetwerke om te sien en dit ten volle herstel.
Dit is kommerwekkend dat 58,2% – wat neerkom op ’n waarde van R2 miljard – van die eThekweni-metro se gesuiwerde water volgens die ouditeur-generaal (OG) se verslag verlore gaan. “Hierdie verlies kan net aan onwettige koppelings, hoofsaaklik lekkende waterinfrastruktuur en vloedskade, toegeskryf word,” sê Donald Brown, AfriForum se voorsitter vir die Durban-tak.
“Fondse was al ’n geruime tyd beskikbaar gestel om die vloedskade aan die infrastruktuur te herstel en mens kan net só lank die vloede die skuld gee vir al die probleme,” voeg Sarel Taljaard, AfriForum se voorsitter vir die Amanzimtoti-tak, by.
Besteding
Volgens die OG se verslag was die totale inkomste vir die eThekweni-metro R51,4 miljard in die 2022/2023 finansiële jaar, waarvan R43,7 miljard deur die munisipaliteit gegenereer was. Die Nasionale Tesourie se webtuiste dui aan dat die eiendomsbelastinginkomste vir 2023 vir die eThekweni-metro R11,94 miljard was. Hierdie fondse kom van eiendomseienaars en is vir tipiese nie-faktuureerbare dienste soos om slaggate en straatligte te herstel, en sypaadjies en parke in stand te hou.
Die OG-verslag wys dat die eThekweni-metro tydens die 2022/2023 finansiële jaar R3,6 miljard se onreëlmatige uitgawes aangegaan is. Dit is kommerwekkend en AfriForum dring daarop aan dat dit dringend aandag moet geniet.
Luidens die verslag van die OG word daar niekompterende en onregverdige aankope gedoen. Verskeie tenders en kontrakte word aan staatsamptenare, raadslede, werknemers en familielede gegee. Die eThekweni-metro het 6,1% van die begroting aan onderhoud gespandeer, terwyl die Nasionale Tesourie 8% aanbeveel. AfriForum is bekommerd dat die lae spandering aan onderhoud aan masjienerie en ander toerusting tot die huidige swak dienslewering bydra.
Besoek www.wordlid.co.za om deel te word van jou naaste AfriForum-tak en sodoende ’n daadwerklike verskil in jou gemeenskap te maak.