|

Geregtigheid buite bereik vir slagoffer van geslagsgebaseerde geweld terwyl verdagte op vrye voet bly

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)
Klankgreep: Barry Bateman (Engels)

Die regering se toewyding om geslagsgebaseerde geweld hok te slaan is slegs lippediens wanneer ’n skynbaar eenvoudige taak, soos om ’n verdagte op te spoor en te verseker dat hy voor die hof verskyn, onmoontlik blyk te wees. Dit selfs ná die slagoffer inligting voorsien het oor die verdagte se moontlike ligging. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het ’n maand gelede die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) genader om ’n reeds gemagtigde lasbrief uit te voer  vir ’n man wat daarvan beskuldig word dat hy sy lewensmaat verskeie kere met ’n skroewedraaier gesteek het. Die SAPD het hierdie korrespondensie ignoreer.

Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Helena Fairlie, wie se voormalige lewensmaat Gregory Kleynhans, al vir meer as ’n jaar voortvlugtig is terwyl die SAPD geen belangstelling toon om hom op te spoor en in hegtenis te neem nie.

Kleynhans het Fairlie na bewering op 6 Desember 2022 buite haar gastehuis in Centurion aangeval toe sy op pad was werk toe. Hy het haar glo aan haar hare gesleep, probeer om haar in sy motor te dwing, die deur teen haar toegeslaan en haar verskeie kere met ’n skroewedraaier gesteek. Toe bure op Fairlie se desperate hulpkreet gereageer het, het Kleynhans die skroewedraaier laat val en die toneel gevlug. Fairlie is vir steekwonde aan haar bobene en bors behandel.

Die polisie het glo Kleynhans ’n dag ná sy inhegtenisneming weer vrygelaat. Die polisie het versuim om Fairlie in kennis te stel oor die omstandighede rondom sy vrylating en of hy onderhewig was aan enige voorwaardes vir sy vrylating.

Die privaatvervolgingseenheid het op 29 Oktober en weer op 27 November vanjaar ’n skrywe aan die stasiebevelvoerder van die Wierdabrug SAPD gerig, maar geen terugvoer ontvang nie.

President Cyril Ramaphosa het vandeesweek in sy nuusbrief gesê dat die besluit om geslagsgebaseerde geweld tot nasionale ramp te verklaar, die regering in staat sal stel  om befondsing en toegang tot geregtigheid te verbeter. Ramaphosa meen ook dat die ramptoestand wetstoepassers sal in staat stel  om sake wat met geslagsgebaseerde geweld verband hou, vinniger te vervolg en af te handel. Ramaphosa het ook verwys na vordering in die “operasionalisering” van  wette teen geslagsgebaseerde geweld.

Volgens Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, demonstreer Ramaphosa ’n fundamentele wanpersepsie  van die probleem en hoe die verval van die strafregstelsel daartoe bydra. “Om sake te ondersoek, dossiere saam te stel, verdagtes te arresteer en te verseker dat hulle vervolg word, is nie gespesialiseerde take nie; dit vereis slegs dat die SAPD van hulle kernpligte moet uitvoer.”

“Hierdie sake kan nie vinniger afgehandel word sodat geregtigheid vir slagoffers kan geskied indien  die ondersoekbeampte nie met die slagoffer in gesprek tree ten einde die verdagte te kan opspoor nie. Geen hoeveelheid wette sal help om geslagsgebaseerde geweld te bekamp, as die SAPD nie hulle pligte met die uitvoering van hierdie wette nakom ten einde  verantwoordbaarheid te verseker nie. Dit behoort ’n verleentheid vir die SAPD te wees dat ’n verdagte, wie se ligging aan hulle bekend is, al vir langer as ’n jaar vervolging ontwyk. Dit is ondenkbaar dat die SAPD hierdie stand van sake maar net aanvaar terwyl die president glo dat dit ’n verskil sal maak om geslagsgebaseerde geweld tot nasionale ramp te verklaar,” sluit Bateman af.

Die privaatvervolgingseenheid sal toesien om te verseker dat die SAPD sake soos hierdie met die erns hanteer wat dit verdien.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik