Gemeenskappe moet hulself pantser teen uiterste weerstoestande dié lente – AfriForum

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe en munisipaliteite om die jongste seisoenale risiko weervoorspelling verslag, wat deur die Nasionale Rampbestuursentrum (NRBS) uitgereik is, eter harte te neem en die nodige voorbereidings en gebeurlikheidsplanne in plek te sit. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens word bo-gemiddelde reënval in die noordoostelike dele van die land voorspel, terwyl temperature oor die algemeen hoër as normaal sal wees.

Volgens die verslag kan verskeie provinsies hierdie lente met uiterste weerstoestande te kampe kry, insluitend veldbrande, vloede, sterk winde en selfs sneeu. Die verslag wys daarop dat daar ’n groter waarskynlikheid van bo-gemiddelde reënval in die noordoostelike dele van die land bestaan, terwyl temperature oor die algemeen hoër as normaal voorspel word.  Hierdie toestande kan die gevaar vir veldbrande en oorstromings verhoog.

“Voorspellings soos dié behoort deur munisipaliteite se rampbestuurafdelings gebruik te word om die nodige voorbereidings te tref om ernstige skade te voorkom. Daar is jaarliks miljoene rand se skade aan infrastruktuur omdat munisipaliteite nie voorkomend optree nie. Dit dui op ’n ernstige gebrek aan langtermyn-beplanning en die onvermoë van die owerhede om basiese rampbestuurbeginsels toe te pas.”

“Die tragiese verlies aan lewens en skade aan eiendom kan nie net aan natuurrampe toegeskryf word nie, maar ook aan swak bestuur en ’n gebrek aan instandhouding. Wanneer munisipaliteite nie eens eenvoudige voorkomende maatreëls soos die skoonmaak van stormwaterdreine of die versterking van kritieke infrastruktuur toepas nie, plaas dit duisende mense se veiligheid en eiendom in gevaar,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.

’n Voorbeeld hiervan is die vernietigende vloede wat KwaZulu-Natal in April 2022 getref het, wat duidelik gewys het hoe kwesbaar gemeenskappe is wanneer munisipaliteite nie voorbereid is op hierdie tipe gevare nie. In Durban en omliggende gebiede is infrastruktuur soos paaie, brûe, stormwaterstelsels en selfs behuising grootliks verwoes – en talle van hierdie noodsaaklike dienste is selfs drie jaar later nog nie volledig herstel nie. Hierdie situasie behoort ’n wekroep te wees vir gemeenskappe om self betrokke te raak en druk toe te pas sodat die nodige gereedheidsmaatreëls in plek gestel kan word.

Die organisasie doen ook ’n beroep op gemeenskappe om self verantwoordelikheid te neem deur toe te sien dat hul eiendomme en in hulle woonbuurt skoon is en gereed is om vloede of brande te hanteer. Volgens AfriForum kan die gevolge van rampe verminder word en lewens gered word wanneer gemeenskappe georganiseerd is.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf