|

Geen grasperk ongesny gelaat deur Teks-buurtspan

AfriForum se Trichardt-Evander-Kinross-Secunda-tak (oftewel die Teks-tak) se buurtspan laat nooit gras onder sy voete groei nie en vanjaar is geen uitsondering nie. Dié buurtspan het in Januarie voortgegaan om verskeie persele in Secunda se gras te sny in ’n poging om betroubare dienste aan hierdie gemeenskap te lewer.

Die span het gedurende die maand altesaam 2,46 hektaar se gras gesny. Hy het eers sy aandag op die terrein om die Davieshof-sentrum toegespits, waar die gronde gesny en skoongemaak is. AfriForum kyk al geruime tyd na die terrein omrede die gebied vir lank nie onderhou was nie.

Die Teks-buurtspan het ook met ’n skoonmaakprojek om dele van Nelson Mandela-rylaan begin. Die gras het heuphoogte gegroei en motoriste, voetgangers en inwoners wie se erwe daaraan grens, se veiligheid in gedrang geplaas. Die projek word verder in Februarie voortgesit.

Die AfriForum-buurtspan fokus daarop om plaaslike diensleweringsuitdagings betyds en doeltreffend die hoof te bied. As gevolg daarvan het die span in 2025 altesaam 35 hektaar se gras gesny en 108 vragte gras en vullis van groenstroke af verwyder.

“Hierdie AfriForum-buurtspan dra die gemeenskap se belange op die hart en is ingestel op inwoners se behoeftes. As ’n toegewyde gemeenskapsorganisasie, doen ons ’n beroep op gemeenskapslede om met ons hande te vat sodat ons nog meer kan doen,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.

Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog betrokke te raak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf