|

Jonges met vonk pak rits selfdoenaksies aan

Deur Megan Swart

AfriForum Jeug het die afgelope naweek bewys dat sy jaarlikse jeugkongres nie net nóg ’n byeenkoms is waar daar slegs oor leierskap gepraat word nie, maar dat dit ’n beweging is wat deur daadwerklike optrede die leiers van môre help vorm.

Nagenoeg 40 studente verbonde aan universiteite oor die land heen het vir drie dae lank net buite Pretoria byeengekom om die vlam van verandering aan te steek. Vanjaar se jeugkongres het gehandel oor die krag van ’n enkele vonk – daardie oomblik wat die jeug besluit om eienaarskap te neem, verantwoordelikheid te dra en ’n toekoms te bou waarop almal trots kan wees.

Dié groep studente het die tema van die kongres behoorlik verwesenlik toe hulle Vrydag die strate van die Moot in gevaar het om verskeie selfdoenaksies aan te pak. Die aksies is toegespits op die gebied rondom die Hoërskool Oos-Moot in Waverley om op dié sigbare wyse waarlik gemeenskapsbouers te wees wat skole – ’n belangrike spilpunt in gemeenskappe – ondersteun.

Anzel van der Walt, ’n tweedejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria, sê die jeugkongres en spesifiek die selfdoenaksies het haar opnuut gemotiveer om eienaarskap van haar omgewing te neem.

“Dit is ’n belewenis om ’n gemeenskap te kan dien deur iets so eenvoudig soos om padtekens te verf. Dit het ook weer by my tuisgebring hoe bevredigend dit is om by projekte betrokke te raak wat ’n werklike verskil in ’n omgewing maak.”

Die jeugkongres het nie net gehandel oor die uitdagings wat die land en sy jeug tans in die gesig staar en hoe om dit aan te pak nie. Die studente het ook die geleentheid gehad om hul litte los te skud tydens vanjaar se cantusfees, boeresport en potjiekoskompetisie.

“Die jeug het ’n groot rol om te speel in die toekoms van beide AfriForum en die land in sy geheel. Ons wil daarom met elke nuwe jaar die jeug aanmoedig om op te staan, leiding te neem en die energie te wees wat ander aansteek,” sê Yvonne Gerber, jeugbeampte vir Ontwikkeling by AfriForum Jeug.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf