Gauteng-skoleplasings: Laat opening van aanlyn stelsel stuur wéér af op plasingsramp, waarsku AfriForum
AfriForum doen ’n dringende beroep op alle ouers wat hul kinders in Gautengse skole vir graad 1 of 8 wil inskryf vir 2027 om gereed te maak vir die aanlyn registrasieproses wat op 5 Augustus 2026 om 08:00 open. Registrasies op dié portaal sluit op 4 September.
Die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) het die registrasiedatums vanoggend tydens ’n aanlyn mediakonferensie bekendgemaak.
Carien Bloem, hoof van Onderwysprojekte by AfriForum, waarsku dat ’n plasingsramp dalk, soos vorige jare, op 2027 se graad 1- en 8-leerders in die provinsie wag.
“Die aanlyn registrasieplatform open vanjaar weer baie laat, en met ’n geraamde meer as 400 000 leerders wat binne slegs vier weke geplaas moet word voor die einde van die 2026-skooljaar én die stelsel se powere prestasierekord, moet ouers gereedmaak vir ’n uitdagende registrasieproses,” verduidelik Bloem.
Die plasing van graad 1- en 8-leerders vir die 2026-skooljaar in die provinsie was ’n katastrofe en die stelsel kon nie daarin slaag om die omvangryke hoeveelheid plasings binne die beperkte tyd suksesvol af te handel nie. Die toenemende aantal leerders, tesame met die ontoereikende aantal skole in die provinsie vererger boonop die probleem.
“Ouers moet hulself daarom voorberei op ’n moontlike plasingstryd,” meen Bloem. Om potensiële probleme die hoof te bied, moedig Bloem ouers aan om die leerderregistrasie so gou as moontlik volledig af te handel en alle vereiste dokumentasie binne drie dae by hul voorkeurskole in te dien.
Sy beveel ouers ook aan om slegs by een – of hoogstens twee – voorkeurskole aansoek te doen, aangesien onnodige veelvuldige aansoeke kapasiteitsbeplanning bemoeilik en die finale plasing van leerders vertraag. Daarbenewens moedig sy ouers aan om skermskote van die hele registrasieproses te maak en die skermskote en registrasienommer veilig te bewaar. Aangesien ouers via SMS van die plasing verwittig gaan word, herinner sy ouers om ook te verseker dat ’n werkende selfoonnommer by die registrasie van kontakbesonderhede gebruik word.
Luidens GDO moet die volgende stappe vir die registrasie van ’n leerder op die aanlyn portaal gevolg word:
- Registreer besonderhede van ouers.
- Registreer bewys van fisiese adres.
- Registreer besonderhede van leerder.
- Kies ten minste twee voorkeurskole.
- Laai alle dokumentasie elektronies op die registrasieportaal.
Die portaal is beskikbaar by www.gdeadmissions.gov.za.
Dokumentasie wat vereis word is: identiteitsdokumente van ouers en die voornemende leerder se geboortesertifikaat; bewys van fisiese adres; bewys van werksadres; inentingskaart (slegs vir die registrasie van graad 1-leerders); en die mees onlangse graad 7-rapport (slegs vir registrasie van voornemende graad 8-leerders).
AfriForum sal die plasingsproses deurlopend moniteer en aanvullende inligting op AfriForum se sosialemediaplatforms plaas. Ouers wat enige uitdagings met die registrasieproses ervaar, word aangemoedig om AfriForum per e-pos (onderwys@afriforum.co.za) daarvan in kennis te stel .



