AfriForum antwoord op News24 se heksejag

Dít is wat AfriForum met ‘n maandelikse inkomste van R22,6 miljoen bereik

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Daar het julle dit. News24 het nou selfs met Julius Malema hande gevat in ’n poging om AfriForum onder verdenking te bring. Dit is egter niks nuuts nie. Die anti-AfriForum-aktiviste by News24 blyk eenvoudig nie uit hul foute te leer nie. Elke keer wanneer hulle ’n ongegronde aanval op AfriForum loods, bereik hulle die teenoorgestelde van wat hulle beoog.

News24 werf steun vir AfriForum

Aan die een kant versterk News24 vir AfriForum. Hulle vendetta teen AfriForum en hulle onbillike aanvalle veroorsaak dat baie meer mense hulle by AfriForum teen News24 skaar. Dit brei gevolglik AfriForum se steunbasis uit en herinner honderdduisende lede van die publiek waarom sterk, onafhanklike burgerlike organisasie soos AfriForum nodig is. Daarvoor kan ons News24 bedank.

Aan die ander kant ondermyn hulle News24 se reeds geknoude geloofwaardigheid verder. Wanneer joernaliste hul rol as objektiewe verslaggewers verruil vir aktivisme, is dit nie AfriForum wat uiteindelik die grootste skade ly nie, maar die vertroue wat die publiek in die media behoort te hê.

Verskonings aan AfriForum

Die gretigheid van ’n groep anti-AfriForum-aktiviste by News24 en sommige ander media om AfriForum aan te val, lei telkens daartoe dat hulle foute begaan.

Gevolglik moes News24 en ander media-instellings al talle kere om verskoning vra vir die publikasie van onwaarhede oor AfriForum. Dit is ’n verwoestende slag vir enige media-instelling se geloofwaardigheid wanneer joernaliste op heterdaad betrap word dat hulle doelbewus onwaarhede publiseer ter ondersteuning van ’n ideologiese agenda.

Die kontras tussen AfriForum en News24 oor deursigtigheid

Die media en burgerlike organisasies speel ’n belangrike waghondrol om die regering aanspreeklik te hou en deursigtigheid te bevorder.

Dit is daarom belangrik dat sowel News24 as AfriForum self die voorbeeld stel deur deursigtig op te tree.

Die feite toon egter ’n skerp kontras. Terwyl AfriForum oop kaarte speel oor sy inkomste, uitgawes en prestasies, weier News24 om belangrike vrae oor sy eie finansies te beantwoord.

Toe die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling AfriForum in kennis stel dat News24 toegang tot AfriForum se finansiële state versoek het, het AfriForum besluit om nie die versoek teen te staan nie. Inteendeel, AfriForum het dit as ’n geleentheid beskou om die publiek te wys hoe die organisasie sy geld bestee en om die honderde suksesse wat reeds behaal is, onder die vergrootglas te plaas.

AfriForum is trots daarop dat die organisasie gedurende sy hele twintigjarige bestaan jaarliks ’n ongekwalifiseerde oudit ontvang het.

News24 se optrede staan in skerp kontras hiermee. News24 het geweier om enige van die vrae te beantwoord wat AfriForum oor sy finansiële state en vergoedingstrukture gestel het. Die publikasie wou onder meer nie verduidelik hoe sy moedermaatskappy se skenking van R8 miljoen aan die ANC geregverdig word nie, ondanks die ANC se uitgebreide rekord van korrupsie en wanbestuur.

News24 wou ook nie verduidelik waarom die maatskappy waarvan dit deel vorm sedert 2021 nie meer sy finansiële state openbaar publiseer nie. Anders as AfriForum, was News24 ook nie bereid om sy eie finansiële state bekend te maak nie.

Die vraag is eenvoudig: Waarom die geheimhouding?

Ou nuus

Wat hierdie hele episode nog meer merkwaardig maak, is dat die vrae wat News24 nou probeer opper glad nie nuwe vrae is nie.

Dieselfde aantygings en insinuasies is reeds in die verlede deur Julius Malema geopper. AfriForum het reeds uitvoerig daarop gereageer. News24 se ondersoekende aktiviste het dit klaarblyklik misgeloop en daarom gee ek weer die feite:

Dít is hoe AfriForum maandeliks R22,6 miljoen bestee

News24 en Malema se bewerings bied aan my die ideale geleentheid om namens AfriForum aan te dui hoe dankbaar en trots ons is op die suksesse en resultate wat AfriForum behaal met die inkomste wat uit ledegeld gegenereer word. Hierdie suksesse is die resultaat van genade van Bo, die omsigtige benutting van hulpbronne, harde werk deur sowel AfriForum se personeel as 10 000 vrywilligers, asook die steun van sowat 300 000 lede. Ons wil hê die wêreld moet dit weet. Hier is enkele van die feite:

Ongekwalifiseerde (“skoon”) oudits

AfriForum het nog elke jaar sedert sy stigting 20 jaar gelede ongekwalifiseerde ouditmenings ontvang. In teenstelling hiermee kry net meer as 10% van munisipaliteite in die land ongekwalifiseerde ouditmenings.

As organisasie sonder winsoogmerk met geen aandeelhouers nie wend AfriForum elke sent wat die organisasie ontvang aan om sy duidelik gedefinieerde doelwitte te bereik. AfriForum moet jaarliks verslae en finansiële state by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling indien sodat hulle kan toesien dat AfriForum voldoen aan die wetlike vereistes wat aan ’n openbareweldaadsorganisasie gestel word. Dié verslae is die afgelope twee dekades sonder bevraagtekening aanvaar.

AfriForum moet vinniger en meer bou om versnelde staatsverval teë te staan

Openbare dienste en munisipaliteite verval teen ’n toenemende tempo, terwyl misdaad buite beheer bly. Binne hierdie konteks is AfriForum en die Solidariteit Beweging se roeping om ’n beter hede en toekoms vir ons gemeenskappe en ons nageslag te bou deur selfdoenoplossings te skep.

Dit plaas groeiende druk op organisasies soos AfriForum om meer te doen, vinniger te reageer en groter verantwoordelikhede te aanvaar. Om hierdie druk te bestuur wat versnelde werksaamhede op AfriForum se hulpbronne plaas, fokus AfriForum sy besteding op twee hoofdoelwitte, naamlik as gemeenskapsbouer, maar ook as waghond.

AfriForum as gemeenskapsbouers en waghond

Die eerste kerndoelwit is die bou van sterk, selfstandige gemeenskappe wat as buffer teen staatsverval kan dien. Die tweede is ons waghondrol teen korrupsie, magsmisbruik, wanadministrasie, die verval van die strafregstelsel en aanvalle op taal- en kultuurregte.

Daarom is ek trots daarop dat AfriForum oor die afgelope ses jaar R1,6 miljard aan selfdoenprojekte as teenmaatreëls teen ANC-wanadministrasie kon bestee. Ongeveer 70% hiervan (oftewel R1,15 miljard) is vir plaaslike gemeenskappe, veiligheidsinisiatiewe en selfdoenaksies aangewend. Die oorblywende 30% is aan ons waghondfunksie, regsgedinge en veldtogte bestee.

AfriForum se huidige inkomste, hoe betekenisvol dit ook al mag wees, is ongelukkig steeds nie voldoende om die omvang van staatsverval teë te werk nie. Die organisasie moet toenemend staatsdienste lewer, maar sonder om belastinggeld daarvoor te ontvang. Die dringendheid vir ingryping neem voortdurend toe namate meer munisipaliteite, staatsinstellings en openbare dienste in duie stort. Daarom werk AfriForum voortdurend daaraan om sy vermoë uit te brei sodat nog meer gemeenskappe ondersteun kan word.

Waar kom AfriForum se inkomste vandaan?

AfriForum is dankbaar vir die oorweldigende steun wat die organisasie ontvang. Die maandelikse donasies vanuit AfriForum se sowat 300 000-ledebasis dra by tot 95% van AfriForum se gemiddelde totale inkomste van sowat R22,6 miljoen per maand. Dit wys dat kleiner bydraes deur duisende gewone mense dit moontlik maak om op groter skaal ’n beter hede en toekoms te kan bou.

Terugvoer wat ons van talle AfriForum-lede kry, is dat hulle voel dat hulle meer waarde uit hul vrywillige bydrae tot AfriForum put as wat hulle uit die belasting kry wat hulle aan ’n korrupte en onbevoegde staat moet betaal.

Waarop word AfriForum se inkomste bestee?

AfriForum is op tientalle terreine aktief. Van die prominentste terreine sluit in:

1. Veiligheid

AfriForum ondersteun 177 buurt- en plaaswagte regoor die land.

Dit sluit in:

  • twee beheerkamers wat 24 uur per dag funksioneer – een in Centurion en een in Bloemfontein
  • noodreaksiekoördinering
  • gratis paniekknoppies vir AfriForum-lede
  • ’n landwye kameranetwerk vir monitering en reaksie
  • 33 opleidingsmodules
  • meer as 10 000 opgeleide vrywilligers
  • 34 hommeltuie
  • hommeltuigopleiding vir ongeveer 100 vlieëniers wat gereeld die Suid-Afrikaanse Polisiediens tydens operasies ondersteun
  • landwye buurtwagpatrollies
  • die aankoop van 1 497 koeëlvaste baadjies
  • reaksievoertuie
  • 8 904 tweerigtingradio’s
  • die instandhouding en uitbreiding van ’n kommunikasienetwerk met 71 herhalers
  • talle ander veiligheidstoerusting
  • veiligheidsoudits by skole
  • personeel wat landwyd reis om buurtwagnetwerke te koördineer.

Hierdie werk lewer daagliks resultate op. Die suksesverhale is egter te veel om volledig hier te lys. Besoek gerus AfriForum se webtuiste vir meer inligting.

2. Gemeenskapsontwikkeling

AfriForum het 165 takke wat in meer as 100 dorpe aktief is. Waar munisipaliteite misluk, tree gemeenskappe in.

AfriForum het reeds 45 permanente personeellede in plaaslike gemeenskapspanne aangestel om instandhouding, herstelwerk en dienslewering te ondersteun waar munisipaliteite versuim om hul werk te doen. Hierdie inisiatief word verder uitgebrei namate dienslewering versleg.

Ons gemeenskapspanne ondersteun takke wat daagliks werk verrig wat plaaslike owerhede veronderstel is om te doen. Dit sluit onder meer in:

  • vullisverwyderingsprojekte
  • herwinningsinisiatiewe
  • die herstel van slaggate en paaie
  • die verf van padmerke en skooloorgange
  • grassnywerk
  • noodwaterpunte.

Om hierdie werk te kan verrig, beskik AfriForum oor 23 voertuie en trekkers, 49 sleepwaens en 151 bossiekappers.

Sedert die begin van 2026 alleen is

  • 450 selfdoenprojekte voltooi,
  • 116 ton teer gebruik,
  • meer as 81 ton herwinbare materiaal verwerk,
  • meer as 1 000 liter padverf aangewend,
  • sowat 5 000 hektaar gras gesny en
  • 135 noodwaterpunte geïnstalleer en onderhou in dorpe en stede waar waterkrisisse gereeld voorkom.

AfriForum se vullisverwyderingsprojekte het boonop reeds honderde ton afval uit gemeenskappe verwyder.

3. Hofsake en privaat vervolging

Hofsake kos miljoene rande. Dit is duur – maar noodsaaklik. AfriForum is tans by ongeveer 80 aktiewe hofsake betrokke, terwyl AfriForum se privaatvervolgingseenheid onder leiding van adv. Gerrie Nel reeds meer as 320 sake hanteer het.

Die oorwinnings is omvangryk. Onlangse voorbeelde sluit in:

  • die openbaarmaking van Eskom-kontrakte
  • optrede teen NERSA se geheimhouding oor Eskom-tariefverhogings
  • talle suksesvolle munisipale sake
  • die ontbinding van die Ngwathe Munisipale Raad
  • uitdagings teen onbillike tariewe in die Kaapstad- en Tshwane-metro
  • regsoptrede om Afrikaanse skole te beskerm
  • ondersteuning aan die familie van Senzo Meyiwa
  • suksesvolle vervolgings van verkragters en geweldsmisdadigers.

4. Kultuur- en tradisionele gemeenskappe

AfriForum se werk strek veel verder as stedelike gebiede. Die organisasie werk met talle tradisionele en kulturele gemeenskappe saam, waaronder die Barolong Boo Seleka, die AmaBhele kaJamangile en Orania. Sowat 2,5% van AfriForum se inkomste word hierop bestee, terwyl 67,5% van AfriForum se inkomste by ander stede en dorp regoor die land bestee word.

5. Kultuurprojekte

AfriForum bou nie net aan veiligheid en infrastruktuur nie; ons bou ook aan die toekoms van ons kultuurgemeenskap. Daarom ondersteun ons projekte in skole soos die Dink of Sink-onvoorbereidedebatkompetisie vir leerders en studente, Besigheidsbytjies vir jong entrepreneurs, asook ons teenboelieveldtog wat op skole fokus.

AfriForumTV speel ook ’n belangrike rol in die bevordering van Afrikaans deur by www.afriforumtv.co.za gratis inhoud, kinderprogramme, dokumentêre programme en vermaak aan ’n groeiende gehoor beskikbaar te stel.

Instellings van die Solidariteit Beweging bou ook volstoom saam

AfriForum staan nie alleen nie en is trots deel van die Solidariteit Beweging, wat talle ander instellings insluit wat op verskillende terreine ‘n toekoms help bou. Enkele voorbeelde van die bouwerk wat gedoen word sluit in:

  • ’n Afrikaanse universiteit wat tans bou aan ’n nóg groter kampus
  • ’n Afrikaanse ambagsopleidinginstelling
  • die Wolkskool en Gimnasium Pretoria- privaat skool
  • die bestuur van Afrikanererfenisterreine soos die Voortrekkermonument
  • werks- en indiensnemingsnetwerke
  • ’n landwye netwerk van maatskaplike werkers
  • ’n studiebystandsfonds wat reeds meer as R500 miljoen se studiehulp uitbetaal het
  • ’n Afrikaanse media-instelling.

AfriForum se mandaat en verslagdoening aan lede

AfriForum werk deurlopende met ’n mandaat van sy lede. ’n Stem in ’n verkiesing gee aan ’n politieke party ’n mandaat vir vyf jaar. Daarenteen word AfriForum se mandaat maandeliks hernu deur lede wat elke maand ’n vrywillige bydrae maak.

AfriForum doen ook voortdurend aan sy lede verslag oor sy aktiwiteite deur onder meer in die organisasie se ledetydskrif, op sy webtuiste, in mediaverklarings en op sosiale media.

Nog twee mites: direkteursvergoeding en salarisse

Die verdagmakers uit die geledere van die anti-AfriForum-aktiviste probeer ook om AfriForum se vergoedingstrukture onder verdenking te plaas.

Die werklikheid is dat direkteure van AfriForum wat in diens van instellings van die Solidariteit Beweging is géén direkteursvergoeding ontvang nie. Die enigste direkteursfooie wat betaal word, is aan onafhanklike, nie-uitvoerende direksielede, teen sowat R4 000 vir elk van die vier vergaderings wat per jaar gehou word.

AfriForum se posvlakgradering word volgens die Patterson-graderingstelsel deur onafhanklike kenners van buite AfriForum bepaal. Vergoeding word op ongeveer die 25ste persentiel van markverwante skale vasgestel. Dit beteken dat AfriForum se vergoedingskale laer is dié is wat in baie privaatsektormaatskappye betaal word. AfriForum se personeelkoste was die afgelope jare gelykstaande aan gemiddeld sowat 36% van AfriForum se inkomste. Dit is aansienlik laer as die algemene norm van tussen 50% en 80%, wat dikwels by dienslewerende organisasies sonder winsoogmerk voorkom.

’n Boodskap aan anti-AfriForum-aktiviste

AfriForum gaan aanhou bou. Ons het nie die verdagmakers se toestemming hiervoor nodig nie. Ons gaan nie deur leuens of propaganda afgeskrik word nie; inteendeel, elke aanval motiveer ons om harder te werk, vinniger te bou en sterker te word.

AfriForum gaan volstoom voort om ’n beter hede en toekoms te help bou vir ons gesinne, ons gemeenskappe, ons nageslag en almal wat in Suid-Afrika ’n veiliger, beter funksionerende samelewing wil sien.

En dit is presies wat AfriForum met sy lede se swaar verdiende geld doen.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf