Reën, water
|

Erge donderstorms en koue weer oor groot dele van die land verwag

Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans)
Klankgreep: Tarien Cooks (Engels)

AfriForum waarsku gemeenskappe in groot dele van die land, spesifiek Noordwes en die Vrystaat, dat die erge donderstorms wat tans woed na verwagting tot Vrydag sal voortduur. Hierdie storms gaan gepaard met swaar reënval van meer as 50 mm, wat kan lei tot gelokaliseerde oorstromings van paaie, riviere en laagliggende gebiede. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het ’n oranje vlak 5-waarskuwing vir veral Klerksdorp, Ventersdorp, Lichtenburg en Rustenburg uitgereik vir die erge donderstorms.

“Dit is altyd beter om voorbereid te wees op woeste weersomstandighede om skade en lewensverlies te voorkom. AfriForum doen ’n beroep op motoriste en inwoners om uiters waaksaam te wees en gevaarlike roetes te vermy, veral wanneer paaie en brûe verspoel het. Dit is ook belangrik om die nooddienste se telefoonnommers byderhand te hou,” sê Tarien Cooks, AfriForum se rampbestuurspesialis.

Verspreide buie word ook oor die sentrale deel van Suid-Afrika verwag, terwyl sneeuval moontlik is oor die Drakensberge in Lesotho, asook in dele van KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap. Hierdie gebiede sal ’n drastiese daling in dagtemperature ervaar oor die volgende paar dae, wat uitdagings vir veral bejaardes, jong kinders en diere inhou.

AfriForum doen ’n beroep op gemeenskappe om gereed te maak vir die ongunstige weersomstandighede. Sien wenke hieronder.

Soortgelyke plasings