Entrepreneur deel besigheidsfilosofieë met Pretoriase sake-eienaars

Dit is nie moeilik om te onderneming te begin nie, die belangrikste ding is om goed te beplan, deursettingsvermoë te hê en deurlopend daarop te fokus om die regte aksies te neem. Dít is van die raad wat Jandré de Beer, gesoute entrepreneur en eienaar van V8 Marketing, vandeesweek gedurende ’n AfriForum Sakenetwerk-geleentheid by Kapstadt Brauhaus in Centurion met sake-eienaars gedeel het.
De Beer het lede van die Sakenetwerk se Pretoria-tak verder toegespreek oor die uitdagings en vreugdes daaraan verbonde om ’n sake-eienaar te wees. Hy het onder meer gesê dat sake-eienaars nie mislukkings as foute aan hulle kant moet beskou nie, maar dit eerder moet sien as ’n geleentheid om te leer en beter daarvan af te kom in die toekoms.
“Soms is jou produk fantasties, dit is reg geprys en jy is 100% belyn met die taak, maar die marksegment wat beskikbaar is, is net te klein. Dan moet jy aanpas,” sê De Beer.
Hy het bygevoeg dat bemarking ’n kardinale komponent van enige onderneming is en dat die belangrikste koste in enige onderneming die koste is om ’n kliënt om te skakel na ’n kliënt wat keer op keer terugkom.
Dinah Kloppers, eienaar van Oh my Fudge en ’n lid van die Pretoriase Sakenetwerk-tak, meen dat hierdie geleentheid haar as sake-eienaar gerusgestel het. “Dit het my opnuut laat besef dat elke sake-eienaar voor dieselfde uitdagings te staan kom en dat die belangrikste ding is om daarop te fokus om foute te sien as ’n geleentheid om te leer en te groei.”
AfriForum Sakenetwerk bied deur die loop van die jaar verskeie geleenthede soos hierdie aan wat gratis is vir lede van die Sakenetwerk. Hou AfriForum Sakenetwerk se webblad dop vir toekomstige geleenthede of stuur ’n e-pos na sakenetwerk@afriforum.co.za vir meer inligting.



