|

TV-reeks oor adv. Gerrie Nel wys hoe AfriForum se “bulhond” dié reputasie gekry het

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, staan bekend as die “bulhond” en soos ’n hond met ’n been gee Nel nie sommer op ’n saak op nie. Stryd vir geregtigheid is ’n splinternuwe reeks op AfriForumTV waar kykers ’n blik kry op hoe Nel dink.

In elk van die ses episodes val die fokus op een van die groot sake waarby Nel eens betrokke was óf steeds is. Die sake is uiteenlopend, maar die doel bly altyd dieselfde: om geregtigheid te laat geskied.

Nel sê self in die reeks: “Almal wil geregtigheid hê, maak nie saak wie jy is of waar jy vandaan kom nie. Geregtigheid kan jy net kry as die reg almal gelyk behandel”. Daar is in baie van die sake waar Nel en sy span betrokke raak ’n belangrike persoon wat voorkeur behandeling geniet. Dis juis hierdie soort sake waar die bulhond in Nel uitkom en hy nie laat los nie.

Een só voorbeeld is toe die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) aanvanklik versuim het om Alexis Bizos te vervolg ná hy sy vrou Monique van Oosterhout aangerand het. Bizos, seun van die voormalige anti-apartheid aktivis George Bizos, is vermoedelik oor die hoof gesien oor wie se seun hy is. Die privaatvervolgingseenheid het namens Van Oosterhout opgetree en Bizos is in 2024 aan onder meer aanranding met die doel om ernstig te beseer skuldig bevind.

Ander sake wat ingesluit word, is dié van Antoinette Ndishishi wie deur Santos Conga met MIV besmet is én dié van Jaco Pieterse, voormalige skoolhoof van Bergview College, wat valslik daarvan beskuldig was dat hy ’n leerling verkrag het. Alle klagte teen die laasgenoemde is laat vaar ná die privaatvervolgingseenheid hom gehelp het, terwyl klagtes teen onder andere die EFF-leier Julius Malema en die ANC se sekretaris-generaal Fikile Mbalula aanhangig gemaak is vir uitsprake wat hulle teen Pieterse in die openbaar gemaak het.

Leandra Enslin, vervaardiger by AfriForumTV en vervaardiger van Stryd vir Geregtigheid, verduidelik wat dié reeks boeiende kykstof maak. “Ek dink die reeks gaan kykers meer insig gee oor die privaatvervolgingseenheid, maar ook oor die konsep van privaat vervolging. Die reeks kyk ook na die aanvanklike redes hoekom die eenheid op die been gebring is en hoe hul fokus uitgebrei het soos die strafregstelsel verval het. My gunsteling deel van die reeks is die stories wat adv. Nel vertel en die stories wat ander persone van hom vertel.”

Stryd vir geregtigheid is reeds gratis op AfriForumTV beskikbaar. Besoek www.afriforumtv.co.za om op die platform in te teken en die reeks te kyk.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik