Kyk wat het ‘die nuwe Siener’ oor Ons vir jou te sê
Deur Megan Swart
In 2008 – die jaar waarin die musiekspel Ons vir jou die eerste keer op die planke gekom het – was die bloedjong akteur Jaco Muller deel van dié produksie se ensemble. Etlike jare later is hy gevra om die rol van Siener van Rensburg in die herlewing van dié musiekspel by die AfriForum Teater te vertolk. Ná vier seisoene van Ons vir jou sien Muller duidelik waarom die vertelling van hierdie verhaal, só belangrik is.
“Dit is meer as ’n honderd jaar sedert hierdie oorlog en ons is steeds in allerhande oorloë gewikkel. Hierdie produksie laat ’n mens jouself afvra: Hoekom skiet ons nog mekaar? Het ons dan niks uit die verlede geleer nie?” vra Muller.
Dié ikoniese musiekspel, die eerste vollengte musiekspel oor die verwoestende oorlog van 1899 tot 1902, het in 2008 in die Staatsteater in Pretoria gedebuteer. Dit het daarna op publieke aandrang in 2009 en 2012 teruggekeer na die Staatsteater waar dit weer uitverkoopte speelvakke beleef het. Die produksie het selfs in 2013 ’n Kaapse draai gemaak toe dit by die Artscape-teater opgevoer is.
Destyds het die gesoute akteur Neels Coetzee die rol van Siener vertolk. Muller het in daardie jare onder dié akteur geleer hoe om Siener te vertolk sodat ’n nuwe generasie teatergangers nou uit die bittere lesse van die verlede kan leer.
“Vorige generasies het dinge op die harde manier geleer, maar soms sterf daardie inligting saam met hulle nog voordat hulle dit aan die volgende geslag kan oordra. ’n Nuwe generasie, wat dink hulle is slimmer, maak dan hul verskyning en maak op die ou einde dieselfde foute,” sê Muller.
Ons vir jou herinner die gehoor daaraan dat oorloë geen oorwinnings oplewer nie, dat dit families uitmekaarskeur en gemeenskappe verwoes. Dit bied ’n blik op die verlede, in die hoop dat waardevolle lesse daaruit geleer kan word.
Kyk wat het Jaco Muller nog oor dié musiekspel te sê:



