Dié ondernemings in Bloemfontein ontvang Tinteltong-toekennings
AfriForum Sakenetwerk se Tinteltong Toekennings het op 6 Mei vier unieke Bloemfonteinse ondernemings vir hul bydrae tot die bevordering van Afrikaans as besigheidstaal beloon. Blom Online, Brink of Touch Candle Company, Emhouse Plaasprodukte en Liedjiesbos het elk ’n Tinteltong-toekennng ontvang vir die verskil wat hulle in Afrikaans in hul plaaslike gemeenskappe maak.
In 2025 is daar spesifiek gefokus op plaaslike ondernemings in hul onderskeie gemeenskappe en die verskil wat hulle dáár maak.
Blom Online is vereer vir hul uitstekende diens in Afrikaans, Emhouse Plaasprodukte vir hul uitstekende bydrae tot die Afrikaanse gemeenskap, Liedjiesbos vir hul kreatiewe Afrikaanse naam en Brink of Touch Candle Company vir die kreatiewe Afrikaanse slagspreuk (“ruik dit”) vir hul reeks van Afrikaanse kerse.
AfriForum Sakenetwerk beloon vanjaar oudergewoonte innoverende Afrikaanse ondernemings met Tinteltong-toekennings. Die geleentheid in Bloemfontein, wat by die Paletas-restaurant plaasgevind het, was die eerste van vier Tinteltong Toekennings-geleenthede wat AfriForum Sakenetwerk gedurende Mei oor die land heen gaan aanbied.
Toe die Tinteltong Toekennings in 2016 tot stand gebring is, het AfriForum bevind dat 30% van die Suid-Afrikaanse besigheidsmark Afrikaans is. Daarom doen dié organisasie moeite om ondernemings te beloon wat dienste in Afrikaans lewer. Die doel van hierdie toekennings is ook om ander ondernemings te motiveer om besigheid in hul hartstaal te doen.
“Dit is ongelooflik om te dink dat ons in 2016 net vier Tinteltong-toekennings uitgedeel het en dat ons só gegroei het dat ons hierdie jaar altesaam 32 toekennings aan Afrikaanse ondernemings gaan oorhandig. Boonop word dié glansgeleentheide nou ook by AfriForum se plaaslike sakenetwerke aangebied, waar daar eens net een nasionale geleentheid was,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.
Die toekenningsgeleentheid in Bloemfontein is in samewerking met Piekfijn Ontwerp en Handgemaak, Mirna Butler Recruitment, Ernestco, Akademia en Engvision aangebied.





