Byna 1,8 miljoen onbeantwoorde 10111-oproepe is ’n nasionale noodgeval, sê AfriForum
AfriForum het opnuut ’n beroep op gemeenskappe gedoen om by hul eie veiligheid betrokke te raak nadat kommerwekkende statistiek oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se 10111-noodoproepsentrums in ’n skriftelike parlementêre antwoord deur Firoz Cachalia, waarnemende minister van Polisie, bekend gemaak is. Dié syfers lê ’n noodreaksiestelsel bloot wat duisende Suid-Afrikaners in die steek laat wanneer hulle in nood is.
Gedurende die 2025/2026-boekjaar is 1 790 428 oproepe na 10111 laat vaar. Dit verteenwoordig sowat 20% van alle oproepe wat deur die stelsel ontvang is, oftewel een uit elke vyf oproepe wat daagliks laat vaar is. Die minister het boonop uitdruklik erken dat die verhouding tussen operateurs en inkomende oproepe heeltemal onvoldoende is en dat talle noodoproepe onbeantwoord bly as gevolg daarvan.
“Hierdie is nie bloot net statistiek nie, agter elke oproep wat laat vaar word, kan daar iemand wees wat ’n plaasaanval probeer aanmeld, ’n gesin wat deur gewapende aanvallers in hul huis oorval word, ’n slagoffer van ’n motorkaping of iemand wat ’n geweldsmisdaad sien gebeur. Die gevolge van hierdie gebreke het reeds aan die lig gekom,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.
In Augustus 2026 het ’n getuie van ’n grusame aanval in Dunoon, Kaapstad, na bewering 10111 geskakel terwyl hy gesien het hoe mense aangerand en na ’n vuur naby die N7 gedwing word. Ondanks die feit dat die getuie ’n beraamde ligging met behulp van GPS verskaf het, het hy na bewering gesukkel om hulp te kry omdat die operateur op ’n presiese ligging aangedring het. Die oproep is glo beëindig. Vier mans is daarna dood aangetref en hul liggame was verkool.
Die parlement se portefeuljekomitee oor Polisie het later bevestig dat die hantering van die oproep onaanvaarbaar was en dat dissiplinêre stappe oorweeg word. Hoewel daar nie met sekerheid vasgestel kan word dat ’n ander reaksie die slagoffers kon red nie, laat die voorval vrae ontstaan oor die stelsel se vermoë om op noodsituasies te reageer terwyl dit nog aan die gang is.
In September 2026 is die inwoners van Kaapstad weer sonder toegang tot die 10111-noodnommer gelaat toe die diens in die stad onbeskikbaar geraak het. Die Kaapstad Metropolitaanse Munisipaliteit moes inwoners na sy eie noodkommunikasiesentrum as alternatief verwys.
Volgens Broodryk is die SAPD se onvermoë om ’n akkurate verhouding te verskaf tussen operateurs en inkomende oproepe – met die verskoning dat dit moeilik is om personeelgetalle vir afsonderlike skofte te bekom – onaanvaarbaar en laat dit ernstige vrae oor verantwoordbaarheid ontstaan. Die SAPD het ook erken dat die nodige statistiek om aanspreeklikheid te verseker in gevalle waar oproepe laat vaar of verkeerd hanteer is nie altyd bekom kan word nie weens beperkings met die stelsel.
“’n Noodnommer is veronderstel om die een nommer te wees waarop Suid-Afrikaners kan staatmaak wanneer hulle in onmiddellike gevaar verkeer. Wat gebeur wanneer daardie reddingsboei eenvoudig nie antwoord nie? Wat gebeur wanneer iemand aangeval word, ’n gesin met ’n vuurwapen aangehou word en daar niemand aan die ander kant van die lyn is om hulp te ontbied nie?” vra Broodryk.
“Ons kan nie dit as normaal aanvaar dat byna 5 000 oproepe om hulp elke dag laat vaar word nie. Hierdie oproepe verteenwoordig werklike mense wat om hulp uitreik en die staat het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat iemand antwoord. Suid-Afrikaners behoort nie per toeval hulp te ontvang wanneer hulle die polisie skakel nie. Om hulp in ’n noodsituasie te kry, behoort nooit ’n dobbelspel te wees nie.”
Gemeenskappe word reeds genoop om deur buurtwagte, plaaswagte en ander wettige gemeenskapsveiligheidstrukture verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te aanvaar. Hulle doen dit omdat hulle nie kan bekostig om te wag vir hulp wat moontlik nooit gaan kom nie. Gemeenskapsbetrokkenheid kan egter nie as verskoning dien vir die staat om sy grondwetlike plig om burgers te beskerm, te versaak nie.
“Elke onbeantwoorde noodoproep verteenwoordig ’n moontlike tragedie. Die regering kan nie voortgaan om hierdie krisis bloot aan statistiek te meet terwyl gewone Suid-Afrikaners met hul lewens daarvoor boet nie,” sluit Broodryk af.



