Nuwe AfriForum Instituut vir Federalisme gereed om te bou aan idee van gemeenskapsfederalisme
Deur Ilze Nieuwoudt
“Gemeenskapsfederalisme is nie ’n toekomstige projek nie. Dit is die huidige realiteit van mense wat opgehou het om te wag en begin het om die ruimtes wat vir hulle saak maak, te regeer.” Só beskryf dr. Martin van Staden, hoof van die pas gestigte AfriForum Instituut vir Federalisme (AIF), dié vorm van federalisme waaraan instellings soos AfriForum en ander in die Solidariteit Beweging reeds die afgelope twee of meer dekades lank bou.
Van Staden het gister (11 November 2026) sy eerste openbare lesing as hoof van die AIF gelewer. Dié lesing, getiteld “Federalisme en federasie in Suid-Afrika vandag”, is by die AfriForum Teater in Pretoria aangebied.
AIF neem voortou in Suid-Afrika
Die AIF is die eerste instelling van eie bodem wat spesifiek aan die bestudering en propagering van die federalistiese idee en praktyk in die land toegewy is. Hoewel die AIF nou hierdie reuse-leemte gaan vul, is die konsep van federalisme egter volgens Van Staden niks nuut in die plaaslike politieke en konstitusionele diskoers nie en was daar reeds sedert die 1850’s sekere groeperinge en gemeenskappe wat aktief die vestiging van ’n federale bestel plaaslik nagestreef het.
Van federale ideale tot praktiese gemeenskapsfederalisme
Van Staden het in sy lesing nadere ondersoek ingestel na die historiese wortels van die federalistiese idee onder gemeenskappe aan die suidpunt van Afrika. Dit is egter die huidige toepassing daarvan, spesifiek in die vorm van gemeenskapsfederalisme – en binne die raamwerk van die Suid-Afrika se Grondwet met sy federale struktuur en ontwerp – wat veral vir die AIF van belang is en verder bestudeer sal word.



Van Staden benadruk dat die Suid-Afrikaanse Grondwet – ondanks die federale struktuur daarvan – ontbreek aan die substansie van federalisme en dat die land in effek oor ’n gesentraliseerde federasie beskik. Ondanks dié beperkinge, hou hy vol dat daar egter ’n “lewendige en florerende grondvlak-gemeenskapsfederalistiese realiteit broei”.
Hierdie “broeiende realiteit” is boonop sigbaar op uiteenlopende terreine. Dit is onder meer tasbaar in die “Ons sal self”-leuse waaronder die Solidariteit Beweging al “twee dekades lank parallelle en komplementêre instellings” bou om orde en groei te skep sonder om toestemming van die regering te vra, meen Van Staden. Dit is sigbaar in AfriForum se 175 buurt- en plaaswagte, noodondersteuning, vullisverwyderingsdiens, rampbestuurvermoë en die privaatvervolgingseenheid.
“Daar is niks abstrak hieraan nie. Daar is geen handboeke oor hierdie federalisme nie – ten minste nog nie. Dit is die praktiese konstruksie van veerkragtige, selfstandige gemeenskappe wat verantwoordelikheid neem vir veiligheid, onderwys en basiese dienste waar die staat óf onttrek het óf kwaadwillig opgetree het,” verduidelik hy in sy lesing.
Lees Van Staden se volledige lesing hier.
Lof vir die AIF
Verskeie vooraanstaande leiers in die Beweging, regslui en ander meningsvormers het die bekendstelling van die AIF en Van Staden se intreelesing bygewoon. Forum Nuus het van dié gaste genader om hul siening oor die vestiging van die nuwe AfriForum-instituut en kwessies in Van Staden se eerste lesing te kry.
Prof. Danie Goosen, akademiese hoof van Akademia, meen die AIF sal groot waarde tot die Beweging toevoeg. “Ek dink ons het eintlik al lankal ’n groot behoefte om ’n ideesentrum te hê wat hierdie idees verkondig. En die voorveronderstelling waarvan ons uitgaan, en hy [Van Staden] het dit self in die lesing ook gesê in aansluiting met Van Wyk Louw, is dat idees en uiteindelik die sirkulering van idees uiteindelik die geskiedenis moontlik maak. Dit is hoekom dit so belangrik is – die sirkulering van hierdie idee van die gemeenskapsfederalisme maak die geskiedenis moontlik.”
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, bestempel die vestiging van die AIF as ’n “groot hoogtepunt”. “Ons as stigters van die Solidariteit Beweging word in die media voorgehou as dat ons gekant was teen die demokrasie in Suid-Afrika en dit is hoekom ons die Beweging gestig het. Dit is natuurlik nonsens. Ons is vir demokrasie en vir vryheid. Ons het net gesê federalisme is ’n voorwaarde vir demokrasie en vryheid,” beklemtoon Buys.
Hy hou voorts vol dat die stigting van die Beweging ’n logiese stap was om vryheid en demokrasie te bevorder. “Die model wat ons gebruik om dit te doen, is gemeenskapsfederalisme … Noudat die hele ANC-projek misluk, skep dit die ideale geleentheid om ten bate van alle gemeenskappe in die land weer vryheid en federalisme in die voorgrond te stel.”
Die vestiging van die AIF is volgens Heindrich Wyngaard, uitvoerende voorsitter van Kaapse Forum, ’n goeie manier om stukrag te gee aan die werk waarmee Kaapse Forum, AfriForum en die Beweging besig is.
“Dit behoort te help om die idee dat federalisme ’n vloekwoord is, af te skiet en om weg te doen met die idee dat federalisme ’n stap agteruit is. Dit is uiteindelik ’n stap vorentoe spesifiek vir ons land wat op vele maniere nog so verdeeld is – onnodiglik wil ek sê – en waar minder mense as wat ’n mens sou wou hoop die potensiaal sien wat ingehou word deur die hele idee van gemeenskappe wat dinge vir hulself doen,” verduidelik Wyngaard.
Hy hou ook vol dat nadere ondersoek ingestel moet word na hoe die Khoi- en San-groeperinge ook histories, ondanks hul nomadiese bestaan, ook reeds eeue gelede die idee van federalisme uitgevoer het en ’n eie regeerstelsel, ekonomiese stelsel en oorlewingstelsel vir hulself gebou het.
Prof. Koos Malan, ’n konstitusionele juris, meen die stigting van die AIF plaas ’n konstitusionele kwessie aan die kern van AfriForum en die Beweging se aktiwiteite en vra tereg die vraag oor waar gesag moet berus. “Behoort dit noodwendig net te berus waar die Grondwet sê dit berus, en die antwoord daarop is nee. As gevolg van die faal van die staat op al drie sfere van regering en die faal van die staat met betrekking tot munisipaliteite, die polisie, ensovoorts, is dit noodsaaklik dat gesag as’t ware weggewentel moet word na ander instellings – en meer bepaald na instellings waaroor die publiek in die breedste sin van die woord self beheer het.”



