Buurtwagopleiding bou selfvertroue en paraatheid in Kraaifontein
Tien lede van die AfriForum-buurtwag in Kraaifontein het die naweek van 24 Mei opleiding in vegkuns gehad om hulle verder toe te rus in hul diens aan die gemeenskap. Hierdie opleiding fokus nie net op selfverdediging nie, maar stel lede ook in staat om met groter selfvertroue en paraatheid tydens noodsituasies op te tree. Die lede ontvang komende naweek verdere opleiding in verkuns.
Hierdie inisiatief vorm deel van AfriForum se breër visie om proaktief in te gryp en gemeenskappe te versterk met die nodige vaardighede om hul eie veiligheid te bevorder, sonder om alleen van die staat afhanklik te wees.
Die opleiding is met groot sukses voltooi en deelnemers het dit as insiggewend, bemagtigend en toepaslik vir werklike uitdagings op straat beskryf. Volgens die takbestuur word hierdie opleiding as ’n belangrike bousteen gesien vir toekomstige opleidingsinisiatiewe in die gebied.
“Wanneer ons gemeenskapslede bemagtig met dissipline, vaardigheid en selfvertroue, bou ons meer as net veiligheid – ons bou veerkragtige gemeenskappe,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus.
AfriForum se Kraaifontein-tak beplan om opleiding soos hierdie verder uit te brei sodat meer vrywilligers hul gemeenskappe met oortuiging en verantwoordelikheid kan dien. Hierdie tipe opleidingsgeleenthede is slegs moontlik danksy die ondersteuning van AfriForum-lede.
Om betrokke te raak by AfriForum se strukture in Durbanville, besoek die volgende skakel: Sluit-aan.afriforum.co.za.