|

Bloem-skole ding mee sodat vullis nie vastrapplek in Vrystaat kry nie

Bloemfonteinse skole daag mekaar uit om aan AfriForum se kompetisie deel te neem deur vullis in te samel en terselfdertyd Bloemfontein skoon te hou. Die skool wat die meeste vullis insamel wen R15 000.

AfriForum het die afgelope twee dae met die organisasie se nuwe vullisverwyderingsvragmotor besoek afgelê aan ’n paar skole in Bloemfontein om die kompetisie bekend te stel.

Die kompetisie moedig leerders aan om herwinbare, droë vullis in vullissakke in te samel. Alle vullissakke moet dan by die skool ingehandig word waarna AfriForum se vullisverwyderingsvragmotor dit deurlopend sal oplaai en tel om uiteindelik die wenskool te bepaal. Daar is ook R5 000 op die spel vir die leerder wat die meeste vullis insamel.

Hierdie kompetisie is deel van AfriForum se jarelange stryd teen die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit se swak dienslewering, veral met vullisverwydering.

“Hierdie inisiatief is leersaam en sal die leerders motiveer om meer omgewingsbewus te wees, terwyl dit ook gesonde kompetisie tussen deelnemende skole in die omgewing kweek. Ons sien uit na ’n skoner Bloemfontein en vertrou dat die leerders aan die einde van die kompetisie, wat terselfdertyd ’n skoonmaakprojek is, sal voortgaan om hul omgewing skoon te hou,” sê Carien Bloem, AfriForum se hoof van Onderwysprojekte.

Skole het twee weke om die uitdaging te voltooi. Die kompetisie eindig Vrydag 21 Maart.

“Skole is die hart van ’n gemeenskap. Hul deelname aan hierdie kompetisie versterk AfriForum se saak teen die probleem met vullisverwydering in Bloemfontein,” sê Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof van die sentraalstreek.

Skole in Bloemfontein wat nog aan die kompetisie wil deelneem, kan ’n e-pos stuur aan onderwys@afriforum.co.za.

Soortgelyke plasings