|

President, kry jou water môre hier

AfriForum stuur padkaart na noodwaterpunt vir president se besoek aan “kurkdroë” Govan Mbeki-munisipaliteit

Klankgreep: Hennie Bekker (Afrikaans)
Klankgreep: Hennie Bekker (Engels)

President Cyril Ramaphosa gaan dalk môre geskok wees om die toestand van verval in die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit eerstehands te beleef, maar hy gaan minstens danksy AfriForum, nie – soos inwoners in sekere dele van die munisipaliteit – dors ly nie. Die burgerregteorganisasie het vandag, aan die vooraand van die president se besoek aan dié munisipaliteit op die Hoëveld van Mpumalanga om onder meer die opening van ’n windplaas buite Bethal by te woon, ’n padkaart na die AfriForum-noodwaterpunt op die dorp gestuur.

Die president sal na verwagting môre die opening van die Ummbila Emoyeni-windplaas buite Bethal bywoon.

Dorpe in dié munisipaliteit se krane het sowat twee weke gelede opgedroog weens beplande instandhouding deur Rand Water. Sedertdien moes die nagenoeg 310 000 inwoners van onder meer Bethal, Secunda, Trichardt, Evander en Leandra, klaarkom sonder dié noodsaaklike hulpbron.   

Sedert watertoevoer na dorpe in die munisipaliteit op 17 Julie gestaak is, het AfriForum egter in samewerking met boere in die Bethal-omgewing help toesien dat inwoners by die organisasie se noodwaterpunt op dié dorp toegang kry tot water. Nagenoeg 320 000 liter water is sedertdien gratis aan dié waterpunt en ander punte, insluitend skole en tehuise, gelewer.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir Mpumalanga se Hoëveld, ondervind inwoners in die Govan Mbeki-munisipaliteit reeds minstens sewe jaar lank voortdurend uitdagings ten opsigte van watervoorsiening. In die jongste waterkrisis wat die munisipaliteit getref het, het instandhouding wat Rand Water op 17 Julie onderneem het, krane laat leegloop.

Hoewel watervoorsiening nou plek-plek weer herstel is, het inwoners in die munisipaliteit se setel, Secunda, steeds geen water nie. Sekere skole in dié dorp moes derhalwe noodgedwonge klasse opskort.  

In teenstelling met vorige kere wat watertoevoer na die munisipaliteit opgeskort is, en Bethal laaste was om weer water te kry, was dié dorp hierdie keer voor in die ry. Tydens gister se munisipale raadsvergadering is aangevoer Sasol se leë reservoirs die rede is waarom Secunda se krane steeds droog is en waarom water hierdie keer eerste na Bethal – en nie Secunda soos gebruiklik – gepomp is.

Bekker meen egter die president se besoek het iets daarmee te doen. “Die munisipaliteit se pogings om die waterkwessie weg te verduidelik, hou eenvoudig nie water nie. Waar Bethal keer op keer aan die kortste end moet trek wanneer dit by Rand Water se watervermindering kom, is dit skielik nou anders. Dit is nie blote toeval dat dié dorp nou skielik, te midde van die voortslepende waterkrisis, eerste is om water te kry nie,” verduidelik Bekker verder.

“Sou die krane in dié munisipaliteit egter môre weer of steeds droog loop, is die president en sy gevolg welkom om, soos die inwoners van Bethal reeds die afgelope sowat twee weke gemaak het, ook water by AfriForum se noodwaterpunt te kom tap. Hy sal dan self kan sien hoe die Govan Mbeki-munisipaliteit versuim om sy grondwetlike verpligtinge na te kom en inwoners in elke uithoek van die munisipaliteit se reg op toegang tot water versaak,” sluit Bekker af.

AfriForum-noodwaterpunte bring verligting – jý kan ook help

AfriForum se idee vir die oprigting van noodwaterpunte in dorpe en stede wat gebuk gaan onder watertekorte, het in 2020 posgevat. Sedertdien is hierdie punte in tientalle dorpe en woonbuurte opgerig. AfriForum nooi ondernemings en boere in die Secunda-omgewing uit om ook betrokke te raak by hierdie inisiatief en te help met die oprigting van ’n noodwaterpunt in dié dorp. Kontak Bekker (084 905 6415) vir meer inligting.

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik