|

AfriForum-tak knap padmerkers rondom Springbok-skole op om veiligheid te verbeter

Meer as 13% van alle voetgangersterftes wat in 2025 aangeteken is, was kinders. Teen dié agtergrond het AfriForum se Springbok-tak gedurende Julie en Augustus tien spoedhobbels en voetoorgange rondom Primêre Skool Springbok, Hoërskool Namakwaland, Wielie Walie Springbok, Pre-Primêre Skool Bambi, Springbok Christian Academy en in die Doornpoort-woonbuurt herstel en geverf om dit meer sigbaar te maak en padveiligheid vir leerders te verbeter.

Kinders is besonder kwesbaar as voetgangers op Suid-Afrikaanse paaie. Volgens die Padverkeersbestuurskorporasie (RTMC) se State of road safety report vir 2025 was meer as 13,4% van voetgangersterftes in 2025 kinders van 14 jaar en jonger. Veilige en duidelik sigbare padinfrastruktuur rondom skole is daarom van kritieke belang in die beskerming van jong padgebruikers.

AfriForum se Springbok-tak het as deel van sy opknappingsprojek vyf groot houers gespesialiseerde padverf en reflektiewe katoë ingespan. Katoë verbeter veral snags die sigbaarheid van padmerkers en dra so by tot beter veiligheid vir kinders, ouers, personeel en ander voetgangers.

“Dit is vir ons belangrik om nie net oor dienslewering en veiligheid te praat nie, maar om self praktiese oplossings te help skep waar ons kan. Ons kinders behoort veilig by hul skole te kan aankom en weer veilig huis toe te kan gaan. Wanneer padmerkers en spoedhobbels onduidelik is, skep dit onnodige risiko’s,” sê Jimmy Dippenaar, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake by die organisasie se Springbok-tak.

“Hoewel die instandhouding van openbare padinfrastruktuur ’n belangrike openbare verantwoordelikheid is, wys hierdie projek dat gemeenskappe nie passief hoef toe te kyk wanneer noodsaaklike instandhouding agterweë bly nie. Samewerking tussen inwoners, die burgerlike samelewing, die privaat sektor en die munisipaliteit kan konkrete resultate oplewer,” benadruk Dippenaar.

Die AfriForum Springbok-tak spreek sy opregte waardering uit teenoor burgemeester Rodney Kritzinger en die Nama Khoi Plaaslike Munisipaliteit vir hul samewerking en ondersteuning, asook Clive Beukes, munisipale werknemer, vir sy waardevolle bydrae in die uitvoering van die projek. Die tak bedank ook Legend Road Marking wat padmerkerverf en katoë vir die projek geskenk het.

Deon Jordaan, voorsitter van AfriForum se Springbok-tak, meen hierdie projek bewys wat bereik kan word wanneer ’n gemeenskap saamstaan en hande vat. “Die samewerking tussen die verskillende rolspelers het dit moontlik gemaak om binne ’n kort tyd sigbare verbeterings aan padveiligheid rondom skole in die gemeenskap aan te bring,” sluit Jordaan af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf