Belofte van vere open by AfriForum Teater

Die bekroonde musiekteaterproduksie Belofte van vere het Dinsdag sy openingsaand by AfriForum Teater gevier, waar ’n gehoor van teaterliefhebbers en ondersteuners van die kunste die eerste vertoning van hierdie besondere produksie bygewoon het.

Belofte van vere bring hulde aan die ikoniese digter en kunstenaar Breyten Breytenbach en bied ’n intieme blik op die verhouding tussen ’n pa en sy dogter. In die stuk tree Daphnée Breytenbach (vertolk deur Rolanda Marais) in gesprek met haar beroemde pa (vertolk deur Eben Genis) en neem die gehoor saam op ’n emosionele reis deur herinneringe, identiteit en familie.

Die produksie is saamgestel deur die regisseurspaar Anna Davel (musikaal) en Philip Rademeyer (toneel). Dit kombineer musiek, poësie en teater om ’n sensitiewe en poëtiese vertelling te skep wat reeds by kunstefeeste groot lof ontvang het.

“Maak ’n punt daarvan om dit te kom kyk as jy ’n stukkie van ons geskiedenis wil sien en ’n mooi stukkie Afrikaans wil sien,” sê David Brink, uitvoerende hoof van Aardklop Pronk Podium.

Volgens Eunice Basson, skrywer en digter, wat ook die openingsaand bygewoon het, is dié produksie ’n “absolute belewenis”. “Kom kyk hierdie pragtige stuk en die wonderlike akteurs wat met ons hierdie reis van Breyten deel,” sê sy.

Die produksie speel nog tot 15 Maart by AfriForum Teater. Besoek www.afriforumteater.co.za om kaartjies vir Belofte van vere te bespreek.

Soortgelyke plasings

Ons is Afrikaners