|

Auretweg in Benoni – en ander Ekurhuleni-paaie – kort dringend aandag

Auretweg in Benoni is ’n groot kopseer vir motoriste wat van hierdie pad moet gebruikmaak. Dié pad is vol slaggate – groot en klein. Minstens 60 mense het Auretweg by ’n AfriForum-petisie gevoeg waar padgebruikers slaggate aan die Oos-Randse paaie kan rapporteer. Ander paaie wat ook meer as een keer aangemeld is, is Leithweg in Boksburg, asook Benoniweg en Fowlieweg in Benoni.

Die onlangse swaar reënval het die toestand van die paaie drasties versleg, wat dit in ’n nóg gevaarliker toestand gelaat het. Meer as 200 inwoners het al hul stem laat hoor deur die petisie te onderteken waarin dringende herstelwerk aan die paaie geëis word. AfriForum het die inligting wat tot dusver via die petisie ingesamel is, aan die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit gestuur om aandag aan die probleem te gee.

Volgens Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand, stel die toestand van die paaie menselewens en voertuie daagliks in gevaar. “Dit gebeur meer as gereeld dat motoriste hul voertuie beskadig, voetgangers wat hul lewens waag wanneer hulle oor die pad loop en selfs nooddienste wat sukkel om by ongelukstonele uit te kom. Dit is nie net ’n kwessie van ongerief nie – dit is ’n saak van veiligheid en basiese dienslewering,” sê Ferreira.

AfriForum doen ’n beroep op die Ekurhuleni-metro om herstelwerk aan die paaie as ’n prioriteit te hanteer en om nie net tydelike oplossings te bied nie, maar langtermynplanne in werking te stel om paaie doeltreffend te onderhou.

Gemeenskappe wat saamstaan, bring verandering. AfriForum doen ’n beroep op die gemeenskap om hom te steun en te help om druk op die owerhede toe te pas om die paaie te verbeter. Sluit nou aan by jou naaste AfriForum-tak: Sluit-aan.afriforum.co.za.

Klik hier om slaggate aan die Oos-Rand aan te meld.

Soortgelyke plasings