AfriForum wag op uitspraak oor Johannesburg se omstrede waterheffing
Sowat R1,8 miljard – gelykstaande aan R1 miljoen per dag vir vyf jaar – word van Johannesburgse inwoners ingevorder deur die Johannesburg Metropolitaanse Munisipaliteit se omstrede wateraanvraagbestuursheffing (water demand management levy). Die wettigheid van dié heffing is gister in die Hooggeregshof in Johannesburg betwis en uitspraak is voorbehou.
AfriForum het die saak in Junie voor die hof gebring in ’n poging om dringende verligting vir inwoners te verkry, nadat die metro geweier het om die heffing te verduidelik. Die heffing is ’n vaste bedrag van R107,74 per wateraansluiting per maand, ongeag hoeveel water ’n inwoner verbruik. Dit verteenwoordig ’n verhoging van 65,6% teenoor die vorige bedrag van R65,08 en is sedert 1 Julie 2026 betaalbaar.
AfriForum voer aan dat die metro nie oor ’n voldoende regsgrondslag beskik het om die heffing op die wyse waarop dit gedoen is, in te stel nie en dat die heffing nie werklik daarop gemik is om die vraag na water te bestuur nie. AfriForum hou eerder vol dat die heffing gebruik word om ’n bykomende inkomste te genereer vir ’n munisipaliteit wie se finansies en vermoë om betroubare dienste te lewer reeds onder geweldige druk verkeer.
’n Kernkwessie wat voor die hof aangevoer is, was die metro se versuim om duidelik te verduidelik hoe die bedrag van R107,74 bereken is en waarom só ’n aansienlike verhoging nodig was. AfriForum het ook die metro se besluit betwis om versoeke om inligting oor die heffing na ’n afsonderlike proses ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) te verwys, eerder as om die inligting as deel van die openbare deelnameproses beskikbaar te stel.
Die tydsberekening van die saak is besonder betekenisvol. Terwyl die hof die wettigheid van die heffing oorweeg verduur inwoners oor Johannesburg heen langdurige wateronderbrekings, lae waterdruk en onbetroubare watertoevoer. Johannesburg Water het gewaarsku dat die waterstelsel onder geweldige druk verkeer en inwoners versoek om hul waterverbruik te verminder, terwyl die metro voortgaan om maatreëls in werking te stel om die netwerk in gebiede wat geraak word, te stabiliseer.
“Die inwoners van Johannesburg word gevra om minder water te gebruik, terwyl baie van hulle sukkel om enigsins water uit hul krane te kry. Terselfdertyd vorder die metro jaarliks sowat R1,8 miljard in deur ’n heffing waarvan die regsgrondslag en berekening steeds betwis word. Inwoners verdien om te weet hoe dié bedrag bepaal is, waarom dit so aansienlik verhoog is en of die metro in die eerste plek die reg gehad het om dit in te stel,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake.
AfriForum wil inwoners daaraan herinner dat hulle op 4 November, tydens die plaaslike verkiesing, die geleentheid het om die metro deur hul stemme tot verantwoording te roep vir sy mislukkings, insluitend sy versuim om betroubare waterdienste te lewer en die wyse waarop hy die omstrede heffing hanteer het.
Ongeag die uitkoms van die verkiesing sal AfriForum voortgaan om geregtigheid en verantwoordbaarheid vir Johannesburgse inwoners ten opsigte van die wateraanvraagbestuursheffing na te streef.



