Uit die as het Ghia sak.sak laat vlamvat
Deur Megan Swart
“Ek was só diep in die skuld dat nie eens my man geweet het hoe erg dit regtig was nie. Ek moes letterlik van voor af begin, sonder geld, maar ek het net geweet ek kan nie opgee nie,” bieg Ghia Nadel Liebrecht, wat aan die rand van finansiële ineenstorting ’n nuwe onderneming op die been gebring het in ’n poging om haarself én die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf te red.

Ghia is die eienaar van sak.sak en een van vanjaar se top 5-finaliste in AfriForum se Entrepreneur van die Jaar-kompetisie. Sy het oor die jare haar hand aan verskeie besighede gewaag en in die proses baie foute gemaak en ewe veel daaruit geleer. Dit is egter nadat haar vorige onderneming bykans gevou het wat sak.sak tot stand gebring is.
“Ek het voorheen ’n besigheid genaamd Tradishnal besit, maar toe Shein en Temu die mark betree het, het my verkope só drasties gedaal dat ek amper my deure moes sluit. Ongeveer drie jaar gelede het ek deur KAMERS/Makers gestap en was geïnspireer deur die talent en kreatiwiteit van ons plaaslike entrepreneurs. Net daar is sak.sak gebore – uit ’n baie moeilike tyd, maar met ’n nuwe passie vir plaaslike produkte en Suid-Afrikaanse talent. Soms dink ek daar was hulp van Bo, want ons het ’n paar sakke gemaak, dit verkoop en met daardie geld weer ’n paar gemaak. Dit was ’n baie moeilike tyd, met baie slapelose nagte, maar op een of ander manier het ons dit reggekry om aan te hou,” sê sy.
Sak.sak vervaardig vandag onder meer sakke, wat elkeen gepas genoem is vir sy doel, soos die vlieg.sak, vir enige reisiger, die skree.sak, vir al die bababenodighede, en die kant.sak, ’n skouersak vir alledaagse dra.
“Met sak.sak voel dit uiteindelik asof ek my plek in die son gevind het – iets waarin ek regtig glo en waaroor ek ongelooflik passievol is,” sê Ghia.
SA of niks

Ghia beywer om met sak.sak produkte van goeie gehalte te lewer en terselfdertyd die Suid-Afrikaanse tekstielbedryf uit te bou – ’n bedryf waaroor sy baie passievol is.
“As ons nie ons eie tekstielbedryf ondersteun nie, gaan ons dit verloor en dit sal regtig hartseer wees. Ek het ’n groot liefde vir hierdie bedryf en ek wil sien dat dit weer groei. Daarom glo ek dat as jy trots is om ’n Suid-Afrikaanse handelsmerk te wees, moet jy ook probeer om werk hier by die huis te skep,” sê sy.
Sak.sak vervaardig al sy produkte in sy eie fabriek op tuisbodem, wat nie net help om kostes laag te hou nie, maar ook die pryse van die produkte bekostigbaar maak.
“Ek wil hê sak.sak moet onthou word as iets wat nie net sakke gemaak het nie, maar ook werk vir mense geskep het. Want dis hoe ons ons land se ekonomie en die plaaslike bedryf help groei.”
Die toekoms

Ghia se liefde vir eg Suid-Afrikaanse produkte keer haar egter nie om groot te droom nie. Hoewel hierdie entrepreneur nie haarself as suksesvol sou beskryf nie, het sak.sak sedert sy bestaan van krag tot krag gegaan – soveel so dat Ghia graag dié onderneming internasionaal wil uitbrei.
“Ek het geleer jy kan nooit net agteroor sit en dink dat alles goed gaan bly nie. Jy moet aanhou probeer, jouself uitdaag en soms dinge aanpak wat jy nooit gedink het moontlik is nie. Ek weet daarom presies waarheen ek met sak.sak wil gaan en wat ek met die handelsmerk wil bereik. Ek is oop vir nuwe dinge, maar ek gaan nie sommer van my visie afwyk nie,” sê sy.
“Tog hou ek glad nie daarvan om te misluk nie, so as iets nie werk nie, probeer ek maar weer op ’n ander manier. Ek het in hierdie paar jaar baie meer van myself geleer as wat ek ooit gedink het, daarom weet ek dat dit so belangrik is om in jouself te glo, selfs wanneer ander mense nie doen nie.”
Elke tjek wat gebons het en elke mislukte idee het Ghia gebring tot waar sy nou is en vir die kans om weer dié onderneming te begin sal Ghia weer elke slapelose nag verduur.
“Eerlikwaar sou ek niks anders gedoen het nie. Ek sal alles weer presies dieselfde doen, selfs die moeilike tye en die foute. Ek is oor niks spyt nie.”



