|

AfriForum sorg dat geregtigheid seëvier ná onwettige afkap van bome

In ’n sprekende voorbeeld van AfriForum se privaatvervolgingseenheid se verbintenis tot die oppergesag van die reg, het dié eenheid se ingryping gelei tot die skuldigbevinding van ’n man wat die reg, oftewel ’n kettingsaag, in eie hande geneem het en sy buurvrou se boom op haar eiendom afgekap het. Die Caledon Landdroshof het Johan Fourie skuldig bevind aan opsetlike saakbeskadiging ná dié voorval, wat in September 2022 plaasgevind het, en op 26 Mei ’n vonnis van R3 000 of drie maande gevangenisstraf, opgeskort vir vyf jaar, opgelê.

Antoinette Maake het die eenheid in November 2022 genader nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) geweier het om die saak te vervolg wat sy teen Fourie aanhangig gemaak het. Die NVG het die saak as ’n siviele aangeleentheid bestempel. Ná die eenheid se vertoë aan die Wes-Kaapse direkteur van Openbare Vervolgings is die saak uiteindelik in Februarie 2024 op die hofrol geplaas. Ná Fourie se onsuksesvolle vertoë aan die nasionale direkteur van Openbare Vervolgings, het die verhoor in Desember verlede jaar begin.

Barry Bateman, woordvoerder van die eenheid, sê die kern van hierdie saak is om te verseker dat die oppergesag van die reg gehandhaaf word. “’n Mens kan nie sommer jou buurman of buurvrou se eiendom betree en hul boom afkap nie. Die publiek kan nie toegelaat word om die reg in eie hande te neem nie, en daar moet gevolge vir sulke optrede wees. Dit is juis omdat die staat sake soos hierdie van die hand wys dat die strafregstelsel in duie gestort het. Elke saak verteenwoordig ’n aanval op die oppergesag van die reg en vereis ’n gepaste reaksie van die staat ter verdediging van die samelewing. Anders as die NVG behandel AfriForum se privaatvervolgingseenheid elke saak, en elke slagoffer van misdaad, gelyk,” sê Bateman.

In ’n brief aan Chris Gouws, senior ondersoeker by die eenheid en die een wat die saak hanteer het, het Maake hom bedank vir die uitsonderlike regsverteenwoordiging en ondersteuning wat deur die loop van die saak gebied is. “Ná vier lang jare van regsprosesse en uitdagings het jou professionaliteit, toewyding en onwrikbare verbintenis nooit gewankel nie. Van die begin af het jy elke aspek van die saak met ywer, integriteit en ’n vlak van kundigheid hanteer wat my tydens ’n baie moeilike tydperk vertroue gegee het. Jou aandag aan detail, deeglike voorbereiding en volharding om die beste moontlike uitkoms te bereik, het jou opregte verbintenis om geregtigheid na te streef, getoon.

Die boom is in September 2022 onregmatig afgekap.

“Ek sal altyd dankbaar wees vir die hulp en professionaliteit wat AfriForum my gebied het toe ek hulp nodig gehad het. Die werk wat julle organisasie doen, het ’n groot impak op mense soos ek, en ek weet nie wat ek sonder julle hulp sou gedoen het nie. Uiteindelik het geregtigheid geskied,” sê Maake.

Maake het Gouws bedank daarvoor dat hy haar voortdurend op hoogte gehou het van verwikkelinge en enige vrae wat sy oor die regsproses gehad het, beantwoord het. Die privaatvervolgingseenheid is trots op hierdie benadering, veral in die lig van die ineenstorting van die strafregstelsel, waar aanklaers en polisieondersoekers skynbaar hul rolle as verteenwoordigers van slagoffers van misdaad vergeet het.

“Die suksesvolle hantering van my saak is ’n bewys van die harde werk, vasberadenheid en uitnemendheid van julle hele span,” sê Maake. “Ek is diep dankbaar vir die eindelose ure, moeite, reise en toewyding wat julle daaraan bestee het om vir my te veg en te verseker dat my stem uiteindelik gehoor word, al was hierdie saak hoe klein. My hartlike dank gaan aan julle dat julle my oor hierdie vier jaar bygestaan het. Julle ondersteuning het ’n betekenisvolle verskil in my lewe gemaak en my geloof in die mensdom en die regstelsel herstel.”

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik