AfriForum verwerp Mchunu se afmaak van plaasmoorde; verskaf regte syfers
Die minister van Polisie, Senzo Mchunu, se bewering dat slegs een boer tussen Oktober en Desember 2024 in Suid-Afrika vermoor is, is feitelik verkeerd en minag die werklike, voortdurende krisis van plaasaanvalle en -moorde in die land. Volgens AfriForum het minstens 10 plaasmoorde in dié tydperk plaasgevind – vyf plaaseienaars, een plaasbestuurder, drie werknemers en een veiligheidswag.
Hierdie voorvalle is goed gedokumenteer en beklemtoon die voortdurende bedreiging wat diegene wat in landelike gebiede woon en werk in die gesig staar. Mchunu se misleidende stelling is ’n growwe wanvoorstelling van die werklikheid op grondvlak en ’n belediging vir die slagoffers en hul families.
Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor Gemeenskapsveiligheid, meen dat Mchunu klaarblyklik onseker is oor wat ’n plaasmoord is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se eie definisie van ’n plaasaanval is as volg:
“…gewelddade teen persone wat op plase en kleinhoewes woon, werk of besoek; hetsy met die opset om te moor, verkrag, roof of liggaamlike leed toe te dien. Dit sluit plaaseienaars, plaaswerkers en alle ander burgers van hierdie land in, ongeag ras, kleur, geloof of geslag. Benewens dit, is alle dade van geweld teen die infrastruktuur en eiendom in landelike gemeenskappe wat daarop gemik is om wettige boerdery-aktiwiteite as ’n kommersiële saak te ontwrig, ook ingesluit.”
“Mchunu se versuim om hierdie definisie korrek te erken en toe te pas, wek ernstige kommer oor of die regering werklik daartoe verbind is om plaasaanvalle die hoof te bied en landelike veiligheid op te skerp,” voeg Broodryk by.
Enkele dae voor Mchunu se onsensitiewe uitlatings is ’n bejaarde egpaar wreed in hul plaashuis buite Stanford in die Wes-Kaap aangeval. Hierdie aanvalle is nie geïsoleerde voorvalle nie – dit is deel van ’n groter, voortdurende patroon van geweld teen boerderygemeenskappe wat dringende aandag verg.
“Hierdie opmerkings deur Mchunu is teleurstellend en heeltemal onverantwoordelik. Houdings soos hierdie is deel van die probleem, deur die erns van plaasaanvalle te probeer afmaak eerder as om dit aan te roer met die dringendheid wat dit verdien, blyk dit dat die minister politiek speel. Misdaad is nie ’n politieke spel nie – dit is ’n nasionale krisis wat sterk leierskap vereis, nie ontkenning nie,” sluit Broodryk af.
Die veiligheid van boere, plaaswerkers en plattelandse inwoners moet ‘n prioriteit vir die Suid-Afrikaanse regering wees, net soos politieke moorde, taxigeweld en ander georganiseerde misdade voorrang geniet. Om die probleem te ignoreer of te probeer om die erns daarvan af te maak, is nie ’n oplossing nie, dit versterk net misdadigers en verswak verder die publiek se vertroue in wetstoepassers.