| | | |

Tref só voorsorg vir veldbrande

Veld- en bosbrande is ’n algemene verskynsel in Suid-Afrika en die gevaar van die ontstaan van dié tipe brande neem in die noordelike dele van die land veral toe in die droë wintermaande. Alhoewel hierdie brande uiters gevaarlik kan wees, ís daar raad vir hoe om voor, tydens en ná ’n brand op te tree om die risiko van lewensverliese en skade aan eiendom te verminder. Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, gee handige wenke.

“Veldbrande kan enige tyd en op enige plek ontstaan. Onthou veldbrande is gevaarlik,  versprei vinnig, brand warm en is onvoorspelbaar. Waaksaamheid, paraatheid en verantwoordelike gedrag is noodsaaklik ten einde die impak van veldbrande op sowel die omgewing as gemeenskappe te versag,” verduidelik Cooks.

Tref nóú voorsorg

Daar is baie wat gedoen kan word om jou woning meer brandbestand te maak en jou en jou gesin se veiligheid te verbeter. Begin deur by jou gemeenskap se veiligheidsnetwerke in te skakel. Kyk ook uit vir die Suid-Afrikaanse Weerdiens se brandgevaarwaarskuwings en bly so op hoogte van moontlike risiko’s in jou omgewing.

Dit is ook belangrik om noodvoorrade aan te koop en om persoonlike beskermingstoerusting (PBT) byderhand te hou. Noodvoorrade sluit byvoorbeeld items in wat elke persoon in die huis dalk kan nodig kry. Dink hier aan medikasie, enige ander noodsaaklike items waarsonder die persoon nie kan klaarkom nie en N95-asemhalingsmaskers wat skadelike partikels uit die lug filtreer. Ander noodsaaklike PBT-items sluit in langmoukatoenklere, leerskoene, leerhandskoene, ’n veiligheidsbril en ’n brandklapmus. Onthou ook om belangrike dokumente in ’n brandvastekluis te bêre.

Die gevaar dat ’n brand na jou huis versprei, kan beperk word deur ’n brandstrook van ten minste 10 meter breed rondom jou huis te skep. Hierdie strook moet skoon gehou word van blare, puin en ander vlambare materiaal. Maak ook seker dat jy toegang het tot ’n waterbron buite die huis met ’n tuinslang wat elke deel van jou eiendom kan bereik.

Veld- en bosbrande kan vinnig en onvoorspelbaar versprei.

Wat om tydens ’n veld- of bosbrand te doen

“Tydens ’n brand is jou veiligheid en dié van jou gesin en werkers van kritieke belang. Naas dit is dit jou verantwoordelikheid om te probeer verhoed dat ’n brand van jou eiendom na dié van ’n buurman versprei,” sê Cooks.

Sy benadruk dat veldbrande so gou as moontlik by nooddienste aangemeld moet word en dat inligting oor die brand by plaaslike gemeenskapsnetwerke en nooddienste ingewin moet word. Dit sal jou die voorsprong gee om doeltreffend op die gevare te kan reageer.

Cooks gee ook die volgende wenke:

  • Hou jou diere veilig.
  • Bly in die “swart”, met ander woorde beweeg op plekke wat reeds gebrand het.
  • As jy vasgekeer word, gebruik jou kommunikasienetwerk om ander mense van jou ligging te verwittig.
  • Dra jou N95-masker.
  • Drink baie water.

Cooks wys daarop dat samewerking in spanne tydens ’n brand noodsaaklik is. “Almal betrokke in die span moet ook bewus bly van hul omgewing en let op enige moontlike risiko’s soos bome wat kan omval of die ligging van kragdrade,” verduidelik sy.

Bly veilig na afloop van die brand

Na afloop van ’n brand moet alle gloeiende kole geblus word om te verhoed dat die brand weer opvlam. Daarbenewens moet skade aan eiendom vir versekeringsdoeleindes deur middel van foto’s gedokumenteer word. Dit is ook handig om notas oor die verloop van die brand te maak en ondersoek in te stel na hoe ’n soortgelyke situasie in die toekoms voorkom of mitigeer kan word.

Volgens Cooks kan dit lank neem om ná ’n brand te herstel. “Wees dus geduldig en werk stap vir stap,” is haar eenvoudige, maar treffende raad.

“In ’n land waar veldbrande gereeld voorkom, moet ons fokus van reaktiewe na proaktiewe optrede verskuif. Paraatheid, beplanning en samewerking kan die impak van veld- en bosbrande beperk. Sonder tydige voorsorg verhoog die risiko, veral van lewensverliese van mens en dier. Om voorbereid te wees, is nie ’n keuse nie, maar ’n noodsaaklikheid,” sluit Cooks af.

Soortgelyke plasings

Veiligheid