AfriForum verwelkom besnoeiing op brandstofheffings, maar eis dieperliggende hervorming
AfriForum verwelkom Enoch Godongwana, die minister van Finansies, se besluit om ’n tydelike verlaging in brandstofheffings in te stel. Die besluit is vandag tydens die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) aangekondig en volg op maandelange druk vir die hersiening van brandstofheffings deur AfriForum en ander organisasies. AfriForum beklemtoon egter dat die verlaging gepaard moet gaan met dieperliggende hervormings in die regering se aanwending van belastinggeld.
Die MTBR bevat volgens AfriForum ’n aantal sinvolle besluite, maar meen dit kan nie op sigself verbruikers se nood volkome verlig nie. AfriForum verwelkom die Tesourie se planne om skadelike aanlyn dobbel hok te slaan en die voorgestelde benadering tot kriptoregulering te hersien. Hoewel dit daarop wys dat die Tesourie die regte vrae vra, is dit egter nog nie duidelik of toekomstige regulasies wel suksesvol sal wees nie. AfriForum het vroeër vanjaar kommentaar ingedien op die konsepregulasies op kapitaalvloeibestuur wat individue se vryheid om handel te dryf met kriptogeldeenhede wesenlik sou beperk.
AfriForum hou daarbenewens vol dat die minister vandag versuim het om sekere kritieke sake – waaronder munisipale besteding – te takel.
Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder, meen dat hoewel daar aangevoer is dat optrede en beter navolging van regulasies van munisipaliteite vereis gaan word, daar steeds geen daadwerklike optrede aangekondig is nie. “Munisipaliteite se besteding bly steeds ’n onopgeloste brandpunt. Desondanks is die toegewyde spandering aan plaaslike regering verhoog tot 10% van die fondsverdeling. Verder word ’n bykomende R3,5 miljard bo-op die huidige R2 miljard vir sogenaamde slimmeters toegevoeg om verdere inkomste vir munisipaliteite te verseker. Dit laat steeds die deur oop vir munisipaliteite om salarisse bo infrastruktuur-opgradering te stel,” waarsku Boshoff.
AfriForum doen opnuut ’n beroep op die regering om wanbesteding hok te slaan en striemende oorregulering van verskeie ekonomiese sektore te verminder. “Die feit dat die minister kan spog met staatskuld wat gestabiliseer het te midde van ’n moeilike ekonomiese klimaat, is te danke aan die veerkragtige privaat sektor en die harde werk van wetsgehoorsame burgers,” sê Boshoff. “Die besnoeide brandstofheffings is ’n tree in die regte rigting, maar doeltreffende beleid en staatsbestuur moet nou volg wat burgers beloon en die potensiaal van die privaat sektor verder ontsluit.”
Die minister maak, volgens Boshoff, heelwat beloftes van beleid en bestuur wat ekonomiese groei moet bevorder, maar dit is nog te siene of die regering aan hierdie beloftes sal voldoen. “Dit is moeilik om sulke beloftes te glo as ons steeds byna weekliks berigte sien van ministers wat met reuse-afvaardigings in luukse oorsese hotelle gaan bly. As die regering ernstig is oor verantwoordelike besteding, moet sulke optrede gestaak word – saam met talle ander vermorsings,” sluit Boshoff af.



