|

Eskom se 2027-geldmaakplan: Verbruikers word kragreus se spaarvarkie

Deur Deirdré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum

In die mallemeule van krag, kragtariewe, heffings en betaal tot jy blou word, staan drie kritieke rolspelers: die verbruiker, Eskom en die land se energiereguleerder Nersa, wat die regverdigheid van Eskom se kragtariewe moet bepaal en verbruikers se belange moet beskerm.

In Januarie 2025 het Nersa sy besluit rakende Eskom se meerjarige prysvasstelling (in Engels bekend as die MYPD 6, oftewel die Multi-Year Price Determination) aangekondig. In dié proses moet Eskom kortom aan Nersa verduidelik hoeveel geld die entiteit gaan benodig en watter tariefverhogings benodig gaan word om dié inkomste van verbruikers te kan verhaal.

Ná Eskom se aansoek en die publiek se insette oorweeg is, het Nersa besluit dat Eskom vir die drie boekjare vanaf 2025/2026 tot 2027/2028 ’n totaal van R1,231 miljard deur kragverkope mag verhaal. Dié bedrag is boonop later aangepas om ’n verdere R54 miljard se inkomste uit kragverkope toe te laat. (Oor dié besluit is AfriForum steeds in ’n hofgeding gewikkel.)

Luidens die goedgekeurde verhoging is dus toestemming gegee vir die gemiddelde tariefverhoging van 12,74% vir die eerste jaar van die MYPD 6, ’n verhoging van 8,76% in 2026/2027 en ’n verhoging van 8,83% vir 2027/2028. 

Die volgende stap in die proses van tariefbepaling is Eskom se kleinhandeltariewe- en strukturele aanpassingsaansoek, bekend as Ertsa (Engels: Eskom Retail Tariff Structural Adjustment). In hierdie aansoek lê Eskom aan Nersa voor hoe hulle die tariewe wil struktureer om die goedgekeurde inkomste te verhaal.

Hoe gaan dié twee komponente die tarief wat jy in 2027 vir krag gaan betaal, beïnvloed?

Die dae waarin mindere verbruik outomaties tot ’n kleiner kragrekening sou lei, is danksy Eskom, skynbaar iets van die verlede. So om die belt bloot stywer te trek, die rieme papierdun te sny en net kort van jou nagte by kerslig deur te bring gaan nie verseker dat die rande in jóú sak bly nie. Want sien, Eskom se vaste heffings – die kragvoorsiener se nuwe gunsteling-inkomstestroom – sal toesien dat verbruikers bloot bly betaal.

Die som was eenvoudig: Hoe minder krag jy gebruik, hoe minder geld maak Eskom. Maar die instelling van ’n vaste tarief, bloot omdat jy aan die kragnetwerk gekoppel is, beteken dat Eskom se geld stééds sal inrol, al gebruik jy minder krag.

Eskom se geprojekteerde inkomste uit vasgestelde residensiële heffings is oorspronklik op R261 miljoen vasgestel, maar luidens die jongste voorstel lek Eskom sy lippe af om sowat R355 miljoen uit heffings alleen te in. Daar is boonop drie vasgestelde heffings vir huishoudings, naamlik die netwerkkapasiteitsheffing, die diens-en-administrasieheffing, en die opwekkingskapasiteitsheffing. Eersgenoemde word gehef vir die aansluiting op die Eskom-netwerk, terwyl die tweede die administratiewe uitgawes wat met jou rekening te make het, moet dek. Laastens hou die opwekkingskapasiteitsheffing verband met die beskikbaarheid van opwekkingskapasiteit.

EnergyBee, ’n plaaslike onafhanklike platform oor sonkrag en kragopwekking, het hierdie aangepaste vasgestelde heffings gaan bestudeer en bevind dat verbruikers – afhangende van die tipe kragtoevoer wat ’n eiendom gebruik – aanstaande jaar tussen R670 en R2 871 per maand sal moet opdok om bloot net aan die netwerk gekoppel te wees!

Die vaste heffings is egter net een deel van Eskom se geldmaakplanne. Kragtens die goedgekeurde  MYPD 6 sal die tarief van krag aanstaande jaar (vir die 2027/2028-boekjaar) met 8,83% styg. Dit beteken egter nie dat verbruikers se kragrekening net met 8,83% gaan styg nie. Dié persentasie is bloot die gemiddelde verhoging.

EnergyBee se berekeninge skets weer eens ’n duideliker prentjie van dit wat huishoudings werklik kan verwag. ’n Huishouding wat geen sonkrag gebruik nie en maandeliks 900 krageenhede by Eskom aankoop, betaal tans nagenoeg R3 744 per maand. Dié rekening sal aanstaande jaar met 8,2% styg na R4 052. Daarenteen sal ’n huishouding wat wel sonkrag gebruik en net 100 krageenhede aankoop ’n werklike verhoging van 17,4% sien wanneer die koste opskiet vanaf die huidige R826 per maand na R971 per maand.

Al bied die gebruik van sonkrag stééds ’n reusebesparing, sal huishoudings wat dié alternatiewe kragbron inspan, nou ’n groter persentasieverhoging te wagte moet wees. Die billikheid hiervan is juis wat Nersa nou as deel van die Ertsa-aansoek moet oorweeg.

Moet die publiek tevrede wees met hul “spaarvarkie-status”?

Die skuiwe in Eskom se finansiële model is duidelik, en in eenvoudige terme blyk dit dat Eskom die publiek amptelike “spaarvarkie-status” opgelê het. Soos wat die vraag na Eskom-krag daal, en die geldpotte van Egipte (lees Eskom) leër raak, maak die kragvoorsiener meer staat op die kragverbruikers om met vaste heffings dié gekraakte pot aan die kook te hou.

En terwyl Nersa meer en meer lyk soos ’n instelling wat Eskom se belange beskerm – eerder as dié van die verbruiker – pak AfriForum die kragreus en sy Nersa-skoothondjie by die horings. Die burgerregteorganisasie het kommentaar ingedien op Eskom se voorgestelde Ertsa-aansoek en dring daarop aan dat Nersa die tariefverhogings en die nuwe struktuur verwerp. Dit is noodsaaklik om te verhoed dat kragverbruikers omskep word in permanente spaarvarkies wat, ongeag verbruik, moet bly opdok deur vaste heffings.

Ondersteun AfriForum se petisie teen die kragverhogings en die nuwe tariefstrukture hier. Vir elke stem wat gehef word teen Eskom se spaarvarkie-planne, sal AfriForum een spaarvarkie aan Eskom skenk. Laat jou stem vandag nog hoor.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Magsmisbruik