|

Swak dienslewering: Erkenning alleen gaan nie Suid-Afrika se munisipaliteite red nie

Deur Zel-Marí Gelderblom, inhoud-en-mediakoördineerder by AfriForum

President Cyril Ramaphosa erken nou openlik dat swak dienslewering een van die redes is waarom kiesers hul rug op die ANC draai. Dit is ’n belangrike erkenning. Maar vra enigiemand wat al dae lank sonder water moes klaarkom, vir ’n slaggat moes uitswaai, of verby riool moes ry wat in ’n straat afloop – en die antwoord sal waarskynlik wees: “Ons weet.

Die land het immers nie nóg ’n diagnose van sy munisipale krisis nodig nie. Die simptome is oral om ons.

Draai die kraan oop en daar is nie water nie. Sit jou vullisdrom uit en dit staan dae later steeds daar. Ry werk toe en jy moet jou pad tussen slaggate deur vind. Ná swaar reën loop rioolstelsels oor, straatligte werk nie en infrastruktuur wat jare gelede reeds herstel moes word, verval verder.

Dít is hoe munisipale verval vir gewone mense lyk.

Met die plaaslike verkiesing op 4 November wat nader kom, beloof die ANC weer dat dienslewering reggeruk sal word. Ramaphosa het self erken dat die party foute gemaak het en dat kiesers toenemend ontevrede is.

Die vraag is egter nie meer of die regering die probleem raaksien nie. Die vraag is waarom dieselfde probleme ná jare se waarskuwings steeds nie opgelos word nie.

Swak dienslewering gebeur nie sommer vanself nie. ’n Waternetwerk hou nie toevallig op werk nie. Paaie disintegreer nie oornag nie. Rioolwerke bereik nie skielik ’n punt van ineenstorting nie.

Dit gebeur wanneer instandhouding oor jare afgeskeep word, kundigheid verlore gaan, swak bestuur voortduur, politieke inmenging belangriker as goeie administrasie word en daar te min gevolge is wanneer verantwoordelike persone hul werk nie doen nie.

En uiteindelik is dit die inwoner wat die prys betaal.

Nie net in munisipale tariewe en belasting nie, maar in tyd, geld en lewensgehalte. Jy betaal vir water, maar koop ook ’n watertenk. Jy betaal vir munisipale dienste, maar huur iemand om jou vullis te verwyder. Jy betaal belasting, maar jou gemeenskap samel self geld in om ’n slaggat te herstel of ’n straatlig weer aan die brand te kry.

’n Werkende munisipaliteit word nie aan sy beloftes gemeet nie, maar aan wat gebeur wanneer ’n inwoner ’n kraan oopdraai.

Dit is eintlik ’n eenvoudige toets.

Werk die water? Word die vullis verwyder? Is die rioolstelsel funksioneel? Kan ’n mens veilig op die paaie ry? Word infrastruktuur onderhou? En kan inwoners vertrou dat hul geld verantwoordelik bestuur word?

Dít is die maatstawwe waaraan plaaslike regering beoordeel behoort te word, nie toesprake, manifesbeloftes of nóg ’n herstelplan nie.

Die ironie is dat jare se staats- en munisipale verval reeds ’n ander verskynsel laat posvat het: gemeenskappe wat besef het hulle kan nie vir altyd wag dat iemand anders hul probleme oplos nie.

Oor die hele land heen organiseer inwoners hulself. Buurtwagte help om woonbuurte veiliger te maak. Gemeenskappe herstel infrastruktuur, maak openbare ruimtes skoon en vind alternatiewe maniere om noodsaaklike dienste te lewer wanneer munisipaliteite dit nie meer behoorlik kan doen nie.

Gemeenskapsorganisasies soos AfriForum spring in om staatsverval te keer.

Dit is natuurlik nie ’n verskoning vir munisipaliteite om hul verantwoordelikhede te ontduik nie; inteendeel, inwoners wat hulself organiseer, behoort nie terselfdertyd gedwing te word om onbeperkte swak bestuur te finansier nie.

Ramaphosa is dus reg oor een ding: Swak dienslewering het politieke gevolge.

Maar erkenning is nie aanspreeklikheid nie. En ’n nuwe belofte herstel nie ’n waterpyp, maak nie ’n rioolaanleg reg of vul ’n slaggat nie.

Wanneer kiesers op 4 November hul kruisies trek, behoort die belangrikste vraag daarom nie te wees wie die beste beloftes maak nie. Die vraag is veel eenvoudiger: Wie kan bewys dat hulle ’n dorp kan laat werk?

Word n lid

Maak n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik