|

AfriForum versoek Ramaphosa om hom uit te spreek teen wrede plaasaanval op Donovan Marx en “Kill the Boer”, dring aan op druk van RNE-lede

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

AfriForum doen ’n beroep president Cyril Ramaphosa om hom ten sterkste uit te spreek teen die wrede plaasaanval op Donovan Marx, ’n beesboer van Noordwes wie se ore verlede week tydens ’n plaasaanval afgesny is, asook ander gewelddadige aanvalle. Volgens AfriForum strook Ramaphosa se stilswye oor plaasaanvalle met die president se voortgesette weiering om die “Kill the Boer”-dreunsang se oproep tot etniese geweld teen Afrikaners en boere te veroordeel en plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar.

Die organisasie hou vol dat die president se openbare veroordeling van plaasaanvalle moreel gesproke die heel minste is wat die president kan doen en dat sy veroordeling, veral in die lig van die aanval op Marx, noodsaaklik is om toe te sien dat dié misdaad nie geminimaliseer of geïgnoreer word nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het Ramaphosa as president van die land ’n verantwoordelikheid om homself uit te spreek teen plaasaanvalle en die leiding te neem om hierdie euwel uit te roei. Sy veroordeling van plaasaanvalle sal veel meer as net ’n simboliese betekenis dra. Dit sal erkenning gee aan slagoffers van plaasaanvalle, fokus plaas op die behoefte aan die beskerming van landelike gemeenskappe en erkenning gee aan die regering se verantwoordelikheid om inwoners van die land se veiligheid te verseker.

Hy gaan voort: “Terwyl Ramaphosa versuim om plaasaanvalle te veroordeel, maak die MK-party-LP Andile Mngxitama opruiende uitsprake op sosiale media en voer onder meer aan dat die aanval waarin Marx se ore afgesny is simbolies wys op ‘die weiering van gronddiewe om te luister’. Ook hieroor is die president kenmerkend stil.”

Die ander partye van die Regering van Nasionale Eenheid (RNE) het volgens AfriForum ’n kritieke rol om te speel om ook druk op die president uit te oefen om amptelik plaasaanvalle en die sing van die “Kill the Boer”-dreunsang te veroordeel en standpunt in te neem ten gunste van die prioritisering van dié misdaad. “Die veiligheid van landelike gemeenskappe is nie ’n saak vir politieke onderhandeling nie – dit is die regering se grondwetlike en morele verantwoordelikheid,” sluit Kriel af.

AfriForum sal môre (Dinsdag 3 November) die eerste hofverskyning van aangekeerde verdagtes in die Marx-saak in die Landdroshof op Ventersdorp bywoon.

Volgens Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid, sal AfriForum ’n sigbare teenwoordigheid by die hof hê om daarmee sy steun aan Marx en sy familie te betuig en die verloop van die regsproses te moniteer.

“AfriForum bly verbind tot daadwerklike optrede en sal daarom voortgaan om gemeenskappe deur sy 178 buurt- en plaaswagte te mobiliseer en op te lei. Ons sit ook die opleiding van vrywilligers en die ontwikkeling van gespesialiseerde reaksievermoëns voort om gemeenskappe toe te rus om ’n aktiewe rol in hul eie veiligheid te speel en, waar moontlik, met wetstoepassers saam te werk,” verduidelik Broodryk.

“Terwyl ons op verantwoordelike leierskap van die president aandring, sal AfriForum voortgaan om daadwerklik op te tree om die veiligheid van almal wat op ons land se plase woon en werk, te bevorder” sluit Broodryk af.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

Veiligheid, Magsmisbruik