AfriForum versoek duidelikheid oor ongedienste grondtoewysings in Parys
AfriForum het op 23 Julie ’n formele beswaarskrif aan die munisipale bestuurder en die burgemeester van die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gerig na aanleiding van die onlangse toewysing van ongedienste erwe in Tumahole se uitbreiding 7 en Schonkenville se uitbreiding 8 in Parys.
Hoewel AfriForum die noodsaaklikheid van grondherverdeling erken, is dit kommerwekkend dat die betrokke grond sonder enige basiese munisipale dienste aan inwoners toegeken is, wat in stryd is met beide grondwetlike voorskrifte en die munisipaliteit se eie beplanningsraamwerke.
AfriForum het verskeie probleme geïdentifiseer, waaronder dat grond toegeken is sonder om aan die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur, regmatige sonering of wettige sertifikate te voldoen; dat die areas buite die prioriteitsontwikkelingsones – soos vasgestel in die ruimtelike ontwikkelingsraamwerk – lê; en dat daar geen bewyse van openbare deelname of omgewingsimpakstudies bestaan nie.
Verder ontbreek daar basiese infrastruktuur soos skoon drinkwater, werkende rioolstelsels, elektrisiteitsvoorsiening en toegangs- of stormwaterpaaie. Die Parys-waterwerke en -rioolaanlegte funksioneer tans nie na wense nie, wat ernstige gesondheids- en omgewingsrisiko’s inhou.
“Die reg op behuising in ’n veilige en ordentlike omgewing, soos gewaarborg in artikel 26 van die Grondwet, word duidelik geskend. Die burgemeester se verklaring dat inwoners eers moet bou voordat die munisipaliteit na dienslewering sal kyk, is wetlik ondeurdag en bots met nasionale beplanningswetgewing,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
AfriForum het ’n amptelike versoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die munisipaliteit gerig om teen 15 Augustus verskeie dokumente en planne voor te lê, insluitend beplannings- en soneringsdokumente; infrastruktuuruitrolskedules en kontrakte; omgewings- en ingenieursverslae; rekords van openbare deelname; en waterrehabilitasieplanne en noodingrype.
Sou die munisipaliteit nie teen die sperdatum aan AfriForum se versoek voldoen nie, sal die organisasie die saak na die Vrystaatse departement van Menslike Nedersettings, die departement van Water en Sanitasie, die Openbare Beskermer en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie eskaleer.
“AfriForum sal aanhou druk toepas totdat hierdie grondtoewysings op ’n wettige en volhoubare wyse, in belang van alle inwoners van Parys, geskied,” sluit Pretorius af.
Volgens Schalk Burger, AfriForum se takvoorsitter in Parys, kan die Ngwathe-munisipaliteit nie nuwe ontwikkeling oorweeg voordat die waterwerke, rioolwerke en kragnetwerk nie herstel en ook opgegradeer word nie. “Hierdie dienste kan nie nou eers gelewer word nie, wat nog as daar ’n bykomende uitbreiding is,” sluit Burger af.
“DieNgwathe-munisipaliteit se voortgesette toekenning van grond sonder enige basiese infrastruktuur is ’n direkte oortreding van die Wet op Ruimtelike Beplanning en Grondgebruikbestuur, wat vereis dat behoorlike dorpsbeplanning en dienste soos water, sanitasie en elektrisiteit vooraf beskikbaar moet wees. Die feit dat die munisipaliteit nie hierdie grondwetlike en administratiewe verpligtinge nakom nie, is reeds deur die Hooggeregshof bevestig, wat die ontbinding van die munisipale raad gelas het. Dit is onaanvaarbaar dat grond toegeken word terwyl inwoners steeds sonder betroubare dienste leef,” sê Corné Cronje, bestuurder van Gemeenskapstrukture by AfriForum.
Nota vir redakteurs:
Die Hooggeregshof se uitspraak (gelewer op 20 Junie 2025) volg ná jare waarin die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit verantwoordelik was vir verwaarlosing, onbevoegdheid en verval wat die inwoners van onder meer Parys, Heilbron, Koppies en Vredefort sonder betroubare dienslewering gelaat het. Die verval is gekenmerk deur onder meer ernstige watertekorte, rioolvuil in strate, vervalle infrastruktuur en ’n begrotingswanorde van miljoene rande.
Volgens die hof moet die Vrystaatse uitvoerende raad binne die raamwerk van artikel 139(5)(a) van die Grondwet die volgende doen:
- ’n herstelplan opstel om dienste te herstel en skuldverpligtinge na te kom;
- die Ngwathe munisipale raad ontbind en ’n administrateur aanstel; en
- elke drie maande onder eed aan die hof verslag doen oor die vordering.
Die Ngwathe-munisipaliteit se aansoek om appèl word op 12 Augustus virtueel aangehoor. AfriForum se regspan het op 26 Junie ’n kennisgewing van opponering beteken. As deel van die aansoek om verlof tot appèl moet die regter bepaal of ’n ander hof tot ’n ander besluit sal kom. Indien nie, moet die hooggeregshof se beslissing geïmplementeer word. Indien die munisipaliteit se aansoek om verlof tot appèl egter sou slaag, bly die bevel opgeskort totdat die aansoek by die Hoogste Hof van Appèl aangehoor word. In daardie geval sal AfriForum met sy regspan konsulteer om ander opsies te oorweeg.
Om by AfriForum se Parys-tak aan te sluit, kontak Burger by 082 653 4281.