Nuuskommentaar: Moet mense of ideologieë die maatstaf wees?
Deur Barend Uys, hoof van Interkulturele Verhoudings en Samewerking by AfriForum
“Gaan dit dan nie beter nie?”
“Ek weet nie? Hier was voorheen geen heinings nie, nou bly ons in ’n sekuriteitskompleks.”
Dié vraag en antwoord kom uit ’n onlangse gesprek tussen ’n TV-aanbieder en ’n predikant oor die toestand van die land ná die 1994-oorgang.
Die kernvraag is: Wat is die maatstaf wat gebruik word om te bepaal hoe dit gaan? Wat staan sentraal? Is dit mense wat sentraal staan, of abstrakte ideologieë of idees?
Vir mense wat verby die voetsoolvlakwerklikhede van gewone mense kyk, is dit makliker om te sê dat dit in die huidige bedeling “beter gaan” as tydens die vorige. Daar is nie meer “slegs blankes”-bordjies te sien nie en almal het die reg om te stem en het so inspraak in die regering van die land. Om stemreg te hê beteken immers om vry te wees – niemand besluit oor jou, sonder jou nie. Ons sportlui en sportspanne is welkom regoor die wêreld. Suid-Afrika is oop vir besigheid. En ons politieke leiers is (amper) oral welkom.
Gewone mense op voetsoolvlak dink en voel dalk anders hieroor, en het ander vrae. Watter positiewe impak kan ek sien in my eie en my familie se lewens sedert 1994? Is om stemreg te hê om vry te wees? Gee my stem vir my inspraak in sake wat my, my familie en my volk direk raak?
’n Mens voel minder veilig as ’n paar dekades gelede en jou familie se besteebare inkomste kwyn. Wanneer ’n mens in die diep landelike gebiede ry, sien jy toenemende verval en armoede – met elke besoek is ’n klein dorp slegter daaraan toe.
Die verskil tussen ’n ideologiese en mensgerigte lewensuitkyk is duidelik sigbaar in die massaprotes teen onwettige immigrante wat besig is om vinnig te groei en te versprei. Politici se ideologiese uitsprake oor “een Afrika” en ’n aanspraak op Pan-Afrikanisme val op dowe ore. Mense op voetsoolvlak het ’n versadigingspunt bereik. Hol woorde van die politieke elite rol soos water van ’n eend se rug af. Die elite het die voeling met gewone mense totaal verloor. Mense wil sien dat dit in hul alledaagse lewe beter gaan. Mooipraatjies is nie meer goed genoeg nie.
Genadiglik is daar mense en organisasies wat werk met ’n fokus op mense – om ’n positiewe impak op die werklikheid te maak. Mense en organisasies wat nie sukses meet aan die maatstaf van abstrakte idees nie, maar hoe dit met mense gaan.
Ons is baie bevoorreg dat ons hier aan die suidpunt van Afrika die vryheid en geleentheid het om die mooi toekoms te skep wat ons graag vir ons kinders wil hê. Al wat dit neem is ’n wilsbesluit om organisasies en individue wat impak maak, te ondersteun en self betrokke te raak – altyd met ons oë gerig op Hom wat alles in Sy hande hou.



