AfriForum Teater sluit 2026 op hoë noot af ná jaar van verhooghoogtepunte
AfriForum Teater het die afgelope jaar sy veelsydigheid as kultuur- en vermaakbestemming bewys en terwyl talle Suid-Afrikaners gereed maak om die jaar af te sluit, is daar nog verskeie feestydproduksies op dié teater se program. Teatergangers kan nog uitsien na onder meer Kersfees saam met The Perfect Blendship, die kinderproduksie Brakanjan en Elandré se akoestiese Kersfeesvertoning in Desember.
“AfriForum Teater wil met hierdie vertonings die ware gees van Kersfees laat herleef. Die verskillende produksies is ’n viering van musiek, talent en die kosbare oomblikke wat ons nader aan mekaar bring. Die familieproduksie Brakanjan gaan boonop ’n tikkie avontuur, aksie, humor en nostalgie byeenbring sodat hierdie jaar op ’n hoë noot afgesluit kan word,” sê Salet Smith, bestuurder van AfriForum Teater.
Met die oog op 2027 beplan AfriForum Teater om voort te bou op die afgelope jaar se sukses. ’n Vol program van gehalteproduksies beteken dat AfriForum Teater weer vermaak vir uiteenlopende gehore gaan aanbied.
Een van die bekendste karakters uit die goue era van Afrikaanse televisie gaan boonop in 2027 sy buiging op die verhoog maak. Elandré gaan Bruce Beyers vertolk in Agter elke man – die musiekblyspel in ’n nuwe verhoogweergawe van ’n verhaal wat oor die jare heen ’n spesiale plek in Afrikaanse popkultuur gekry het.
“Ons is geëerd om vir ’n tweede keer die geleentheid te kry om ’n bekende Suid-Afrikaanse film- of televisieproduksie in ’n musiekblyspel te omskep. Die karakters, die humor en die wêreld van Agter elke man bied soveel moontlikhede om iets besonders vir die verhoog te skep,” sê Jacomien de Wet van Inhoud Huis Musiek, wat in samewerking met AfriForum Teater dié en verskeie ander musiekteaterproduksies geskep het.
’n Jaar van hoogtepunte
Die afgelope jaar het ’n wye verskeidenheid musiekproduksies, toneelopvoerings, kindervermaak, ballet, kompetisies, konferensies en spesiale geleenthede ingesluit. Een van die besondere hoogtepunte was die gewilde kindervermaaklikheidster Juffrou Linky, wat 12 uitverkoopte vertonings aangebied het. Ander produksies wat groot byval gevind het, was onder meer Belofte van Vere, The Jungle Book, Ons vir jou met Bok van Blerk en Fatman en Vriende.
Hoërskool Garsfontein se aanbieding van The Addams Family het ook die belangrike rol van skoolproduksies op die teaterverhoog beklemtoon. Die teater het later ook die Pronk Podium 10-jaar-finaal aangebied, ’n geleentheid waar die voorste skooltoneelproduksies opgevoer word. Die Animato A Capella-sêrkompetisie het eweneens die gehalte en omvang van plaaslike sangtalent ten toon gestel.
“Hierdie uiteenlopende geleenthede wat oor die afgelope paar maande by AfriForum Teater aangebied is, het die teater as ’n platform gevestig waar bekende kunstenaars én opkomende talent die geleentheid kry om hul kuns met gehore te deel,” sê Smith.
Humor en ligte vermaak het ook ’n belangrike plek op die jaarprogram ingeneem. Lefra Produksies se Het van Verlangekraal en My Boetie se Sussie se Ou het gehore laat skaterlag, terwyl The Traveling Wilburys Tribute Show as een van die jaar se aangename verrassings uitgestaan het.
AfriForum Teater het ook sy betrokkenheid by verhoogproduksies uitgebrei deur twee blyspele aan te bied, waarvan een by AfriForum Teater en die ander by die Teatro by Montecasino plaasgevind het.
AfriForum Teater is boonop vir die tweede agtereenvolgende jaar as ’n Best of Pretoria-wenner aangewys.
“Dié erkenning weerspieël die volgehoue ondersteuning wat die teater van sy besoekers en die breër gemeenskap ontvang. AfriForum Teater bly daartoe verbind om die uitvoerende kunste te bevorder en ’n ruimte te skep waar kultuur, kreatiwiteit en gemeenskap saamkom,” sluit Smith af.



