DWS-verslag openbaar ernstige gebrek aan uitvoering te midde van nasionale waterkrisis – AfriForum
AfriForum meen dat die land se waterprobleme nie verder afgemaak kan word as ’n geringe kwessie nie, veral nie nadat die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se verslag vir die eerste kwartaal van die 2026/2027-boekjaar ’n kommerwekkende gaping blootgelê het tussen die regering se beloftes oor waterdienste en die geleefde realiteit.
Gemeenskappe oor die land heen gaan steeds gebuk onder gereelde en onbeplande wateronderbrekings en voortslepende rioolbesoedeling weens onder meer verouderde infrastruktuur. Dit is onlangs deur die rioolbesoedeling in Mooirivier, Potchefstroom beklemtoon. Die departement se verslag wys juis dat die program vir die bestuur van waterdienste slegs 4,6% van sy begroting van R14,714 miljard bestee het.
Hierdie program is verantwoordelik vir die ondersteuning van waterdienste en munisipale waterinfrastruktuur. Die ondoeltreffende besteding van fondse in hierdie program kan nie as ’n administratiewe vertraging afgemaak word nie, veral nie in ’n tyd waar die land met ’n geraamde rekening van R400 miljard vir herstelwerk aan waterinfrastruktuur gekonfronteer word nie. Dié bedrag verteenwoordig vertragings in die aanlê van pypleidings en herstelwerk aan rioolsuiweringsaanlegte, pompe en sanitasie-infrastruktuur in gemeenskappe wat dringend werkende dienste benodig.
“Die regering erken dat die land met ’n waterinfrastruktuurramp van R400 miljard te kampe het, maar tog het die program wat vir waterdienste verantwoordelik is, minder as 5% van sy begroting gedurende die eerste kwartaal bestee. Hierdie teenstrydigheid wys op ’n regering wat die krisis kan diagnoseer, maar steeds nie in staat is om met die nodige dringendheid daarop te reageer nie,” sê Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake.
Die verslag toon verder dat:
- slegs 218 van die beoogde 294 projekte wat vir die waterdienste-infrastruktuurtoelaag gekwalifiseer het, onder konstruksie was;
- geen van die twee groot streeksinfrastruktuurprojekte wat gedurende die kwartaal voltooi moes word, voltooi is nie;
- die klein streeksinfrastruktuurprojek wat vir voltooiing geskeduleer was, ook nie voltooi is nie;
- 107 swak presterende munisipaliteite geïdentifiseer is wat ondersteuning en ingryping benodig;
- munisipale skuld aan waterrade teen 31 Mei 2026 tot R24 miljard gestyg het, lopende rekeninge uitgesluit;
- die departement se debiteure 467 dae bereik het, teenoor ’n teiken van 120 dae; en
- R5,052 miljard se onreëlmatige uitgawes steeds uitstaande is en vasgevang is in hofsake, ondersoeke, dissiplinêre verrigtinge en kondonasieprosesse.
“Hierdie verslag bevestig dat Suid-Afrika se waterkrisis nie bloot die gevolg van onvoldoende befondsing is nie. Miljarde rande is beskikbaar, maar uitvoering bly pynlik stadig, projekte word vertraag en munisipaliteite versuim steeds om waterrade te betaal. Daar word van gemeenskappe verwag om sonder betroubare watervoorsiening klaar te kom, terwyl die staat nie daarin slaag om beskikbare infrastruktuurfondse doeltreffend te bestee nie,” sê De Klerk.
Hoewel die verslag aandui dat geen nuwe onreëlmatige uitgawes gedurende die kwartaal onder die departement se hoofrekening aangegaan is nie, bly die volgehoue versuim om sake ter waarde van meer as R5 miljard af te handel, onaanvaarbaar. Sommige van hierdie sake is reeds jare lank onopgelos.
“Daar kan nie van die publiek verwag word om uitgerekte ondersoeke en dissiplinêre verrigtinge as aanspreeklikheid te beskou nie. Aanspreeklikheid beteken om verliese te verhaal, hofverrigtinge af te handel en verantwoordelike amptenare en kontrakteurs persoonlik aanspreeklik te hou. Lêers wat onbepaald oop bly, herstel nie infrastruktuur of bring skoon water na gemeenskappe terug nie,” sê De Klerk.
“Die krisis is nie meer op pad nie – dit is reeds sigbaar in droë krane, langdurige onderbrekings, riool wat in riviere vloei en gemeenskappe wat gedwing word om van watertenkwaens afhanklik te wees. Elke vertraagde projek en elke rand wat onbestee bly, verhoog die uiteindelike herstelkoste en verleng gemeenskappe se lyding.”
Die departement erken dat toenemende munisipale skuld die finansiële stabiliteit van waterrade ondermyn en hul vermoë beperk om kritieke infrastruktuur te bedryf, in stand te hou en uit te brei. AfriForum waarsku dat om munisipaliteite toe te laat om op grootmaat water te verbruik sonder om daarvoor te betaal, bloot die gevolge van munisipale mislukkings op verantwoordelike verbruikers afwentel en watersekerheid in gevaar stel.
“Suid-Afrikaners het nie nog ’n herstelplan nodig wat slegs in aanbiedings bestaan nie. Hulle het water uit hul krane nodig, behoorlik onderhoude infrastruktuur en amptenare wat die gevolge dra wanneer hulle droogmaak. AfriForum sal voortgaan om die departement en munisipaliteite te moniteer, geraakte gemeenskappe in te lig en gepaste regstappe te oorweeg waar owerhede versuim om hul statutêre pligte na te kom,” sluit De Klerk af.



