AfriForum help jong leerders om sterk karakter van kleins af te ontwikkel
Die bou van ’n sterk karakter begin nie eers wanneer ’n kind agter die skoolbanke inskuif nie – dit begin reeds in die vormingsjare. Daarom het AfriForum op Vrydag 24 Julie die jong leerders van Kleutergenot-kleuterskool, in Rietvalleirand, Pretoria, op ’n interaktiewe avontuur geneem waar Matteus, die gelukbringer van AfriForum se Teenboelieveldtog, hulle op ’n speelse manier geleer het hoe respek, vriendelikheid, eerlikheid en omgee elke dag uitgeleef kan word.
Die aanbieding is spesiaal vir voorskoolse kinders ontwikkel en het doelbewus nie op negatiewe begrippe gefokus nie. In plaas daarvan is positiewe gedrag beklemtoon en is kinders aangemoedig om goeie keuses te maak, ander met respek te behandel, empatie te toon en selfvertroue te ontwikkel.
Matteus het die kleuters op ’n denkbeeldige reis geneem waar die wapenrusting van God as ’n eenvoudige hulpmiddel gebruik is om waardes soos waarheid, moed, vrede en verantwoordelikheid op ’n verstaanbare en praktiese manier te verduidelik. Die boodskap is verder ondersteun deur die beginsel om ander lief te hê en hulle te behandel soos jy behandel wil word.
“Die ouderdom van twee tot ses jaar is een van die belangrikste fases vir karaktervorming,” sê Mari-Louise Erasmus, aanbieder van die program. “Kinders hoef nie eers aan negatiewe gedrag blootgestel te word om te leer hoe om reg op te tree nie. Wanneer hulle van kleins af leer om respek te toon, vriendelik te wees, ander in te sluit en verantwoordelikheid te neem, word hierdie waardes deel van wie hulle is.”
Volgens Erasmus is die doel van die aanbieding om kinders toe te rus met lewensvaardighede wat hulle nie net in die klaskamer nie, maar ook op die speelgrond, tuis en later in die gemeenskap kan toepas.
“Karakter word nie oornag gevorm nie. Dit ontwikkel deur die klein keuses wat kinders elke dag maak. Hoe vroeër ons hulle toerus met waardes soos empatie, moed en integriteit, hoe sterker is die grondslag vir gesonde verhoudings, verantwoordelike optrede en positiewe skoolkulture,” sluit sy af.
AfriForum se Onderwysafdeling bied ’n landswye Teenboelieprogram aan wat skole ondersteun met praktiese hulpmiddels om boeliegedrag te pak. Die aanbieding by Kleutergenot vorm deel van dié inisiatief om jong leerders reeds in hul vormingsjare toe te rus met die waardes en vaardighede om ’n positiewe verskil in hul eie omgewing te maak.



