AfriForum-tak in Viljoenskroon bring tydelike waarskuwingsborde op R59 aan ná swaar reën
Die AfriForum-tak in Viljoenskroon het op 7 April self ingespring om motoriste te waarsku teen paaie wat weens die swaar reën onbegaanbaar was, omdat die owerhede in gebreke bly om dit te doen.
Die tak het borde opgerig voor die waterpan op die R59 van Bothaville na Vredefort om padgebruikers te waarsku teen die pad wat oorstroom het. Padgebruikers is gelei om die ompad met Fortunastraat deur Viljoenskroon te gebruik. AfriForum het ook waarskuwingsborde aan weerskante van die waterpan tussen Viljoenskroon en Bothaville geplaas. In Fortunastraat het hulle waarskuwingstekens aan beide kante van die pad geplaas om padgebruikers te waarsku teen slaggate en water op die pad.
’n Vragmotor het egter in die water omgeval nadat die vragmotorbestuurder die waarskuwings geïgnoreer het.
Die tak het nog gister (8 April) versperrings op die pad aangebring om motoriste na ander roetes te herlei.
“Dit is jammer dat die owerhede wat waarskuwings moet aanbring net nêrens te sien is nie. Ek is baie trots op die tak wat ingespring het en gedoen het wat hulle kan om hul medemens te beveilig. Die padgebruikers moet nou net verantwoordelikheid aan die dag lê om ag te slaan op die waarskuwings,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Om by AfriForum se tak in Viljoenskroon betrokke te raak, kontak Attie Barnard by 082 557 1428. Om by AfriForum se Viljoenskroon-buurtwag betrokke te raak, kontak Herman Smit by 072 127 2250.

