Hokaai met nuwe nommerplate, waarsku AfriForum
Deur Megan Swart
Die Gautengse regering is glo van voorneme om steeds voertuigeienaars in die provinsie te verplig om nuwe nommerplate aan te koop, ondanks gerugte dat dié nommerplate teen pryse bo markwaarde verkoop gaan word. AfriForum het egter die Gautengse Departement van Vervoer én die provinsie se premier, Panyaza Lesufi, gewaarsku dat hy dié voorneme in die hof sal betwis, sou die projek nie dadelik gestaak word nie.
Die burgerregteorganisasie het vandeesweek in ’n prokureursbrief daarop aangedring dat die nuwe nommerplaatprojek op ys gesit word totdat daar uitspraak in die saak teen die sogenaamde kartel van blanko-nommerplaatvervaardigers gelewer is. Indien die departement nie aan AfriForum se eise gehoor gee nie, gaan die burgerregteorganisasie met regsaksie begin.
“As die sogenaamde nommerplaatkartel reeds hul sakke volstop met hoë winste op die huidige nommerplate, dan lek hulle seker hul lippe af vir die miljoene nuwe nommerplate wat binnekort in Gauteng verkoop moet word,” sê Louis Boshoff, woordvoerder vir AfriForum.
Die Gautengse Departement van Vervoer het in Junie verlede jaar ’n projek van stapel gestuur waarin nuutontwerpte nommerplate op al die provinsie se vlootvoertuie aangebring is. Die nuwe nommerplate bevat glo bykomende veiligheidskenmerke wat volgens die departement gaan help om voertuigkapings en -diefstal te verminder. Dit ondanks die afwesigheid van enige navorsing wat toon dat hierdie misdaad verband hou met die toestand van die huidige nommerplate.
Die departement se ambisieuse projek moes ná ses maande ook na alle privaat voertuie in die provinsie uitgebrei gewees het, maar dit het steeds nie gebeur nie. Gerugte doen nou die ronde dat die departement steeds met hierdie projek gaan voortgaan.
Die Mededingingskommissie het egter in Maart onthul dat hy ’n saak na die Mededingingstribunaal verwys het waarin drie vervaardigers van blanko-nommerplate daarvan beskuldig word dat hulle sedert Junie 2023 wederregtelik gelyke pryse vasgestel het.
Volgens die kommissie ding die drie ondernemings met mekaar mee in die vervaardiging van blanko-nommerplate. Die ondernemings verskaf dié nommerplate aan kliënte van oor die land heen. In ’n poging om hul winste te verhoog, het die ondernemings na bewering jare gelede ’n ooreenkoms aangegaan om pryse en handelsvoorwaardes vir die verskaffing van blanko-nommerplate aan onder meer bosseleerders vas te stel. Dit ondanks die feit dat dié ooreenkoms in stryd is met artikel 4(1) van die Mededingingswet 89 van 1998.
Die Mededingingskommissie se ondersoek het bevind dat die ondernemings nie net die pryse van blanko-nommerplate vasgestel het nie, maar ook ooreengekom het oor die omvang van die prysverhogings en die datums waarop elkeen sy kennisgewing van prysverhoging sou uitreik.
Kommissaris Doris Tshepe sê die ontbinding van hierdie kartel sal die pryse van blanko-nommerplate aansienlik verlaag en boonop nuwe vervaardigers en verskaffers van blanko-nommerplate die geleentheid gee om die mark te betree.
Die Mededingingskommissie versoek nou ’n bevel van die Mededingingstribunaal wat verklaar dat die ondernemings die wet oortree en ’n boete van tot 10% van hul onderskeie omset moet betaal.
“Totdat daar nie uitspraak in hierdie saak gelewer word nie, bestaan die moontlikheid dat voertuigeienaars benadeel sal word deur die Gautengse Departement van Vervoer se aandrang om nuwe nommerplate aan te koop,” sê Boshoff.
Die provinsiale regering het verlede jaar aangedui dat hy geen kosteberaming vir die nuwe nommerplate kan voorsien nie, wat beteken dat voertuigeienaars nuwe nommerplate sal moet aankoop, ongeag die prys wat daarvoor gehef word.
“As die kommissie se bevindinge korrek is, beteken dit dat die provinsiale regering in die hande van ’n kartel speel deur voort te gaan met die uitrol van nuwe nommerplate. AfriForum sal alles in die stryd werp om te keer dat Gautengse voertuigeienaars duisende rand elk moet spandeer om onredelik duur nommerplate aan te skaf,” sluit Boshoff af.



