AfriForum skop 2026-vullisterreinoudit af midde van versnellende afvalkrisis
AfriForum het vandag sy jaarlikse vullisterreinouditprojek vir 2026 van stapel gestuur te midde van toenemende bewyse dat Suid-Afrika se afvalbestuurstelsel swik onder die gewig van swak wetlike nakoming, onrealistiese beplanning en gebrekkige munisipale hulpbronne. Die vullisterreinoudit sal landwyd plaasvind gedurende Februarie en die uitslae sal later vanjaar bekendgemaak word.
AfriForum se vullisterreinoudit word sedert 2014 jaarliks uitgevoer en beoordeel of munisipale vullisterreine voldoen aan basiese wetlike en operasionele vereistes vir verantwoordelike afvalbestuur.
Intussen is AfriForum besig om formele kommentaar op die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing se konsep Nasionale Afvalbestuurstrategie 2026 op te stel. AfriForum se kommentaar sal fokus op die groeiende gaping tussen beleidsambisie en bestuurswerklikheid, insluitend die herverpakking van mislukte teikens, swak afdwingingsmeganismes en die voortgesette agteruitgang van munisipale vullisterreine.
“Die departement se konsep-afvalstrategie erken dat die oorblywende kapasiteit van vullisterreine vinnig besig is om op te raak, maar dit herhaal bloot vyf jaar oue teikens vir die herleiding van herwinbare materiale, wat tot dusver nog nie naastenby bereik kon word nie,” sê Marais de Vaal, AfriForum se raadgewer vir Omgewingsake. “Sonder om wetlike verpligtinge af te dwing en verantwoordbaarheid op munisipale vlak reg te stel, is hierdie teikens betekenisloos.”
Die gevolge van hierdie mislukking is reeds die sigbaarste in Gauteng, waar kenners waarsku dat die oorblywende kapasiteit op die provinsie se munisipale vullisterreine binne ’n paar jaar uitgeput kan wees weens swak bestuur en beperkte alternatiewe. Ten spyte van hierdie dreigende krisis, bied die konsepstrategie geen strukturele hervormings om die oorsake van die afvalbestuurskrisis aan te pak nie.
Hierdie bestuursmislukkings is nie net teoretiese tekortkominge nie, dit het direkte en sigbare gevolge op die grond. Om die publiek bewus te maak van wat op die spel is, het AfriForum ’n dokumentêr oor die dreigende vullisterreinkrisis in Gauteng vervaardig. Die dokumentêr sal in Maart beskikbaar wees.
“Ons boodskap is duidelik. Suid-Afrika het nie meer strategieë op papier nodig nie. Wat werklik nodig is, is die afdwinging van bestaande wetgewing en om amptenare verantwoordelik te hou indien dit nie nagekom word nie. Totdat dit gebeur, sal AfriForum voortgaan om die afvalbestuursmislukkings wat gemeenskappe en die omgewing bedreig, te moniteer, te onthul en uit te daag,” sluit De Vaal af.



