Ervare teaterspan gee aan Breyten vleuels
“Parys was daardie oggend in ’n ondeursigtige witheid gehul. Ek het vroeg wakker geword en aan hom gedink – my vader van ’n duisend gesigte. Skielik het ek die balkondeur hard hoor toeklap. Onseker oor wat gebeur, het ek buitentoe gehardloop. Daar, op die balkonreling, het ’n majestueuse neushoringvoël gesit; ’n voël met ’n rooi snawel, dieselfde fluweelrooi as die mynwerkerskoene wat Breyten amper nooit uitgetrek het nie. ’n Voël uit Suid-Afrika, op die vooraand van die winter, in die hart van Parys”
Dít was die woorde van Daphnée Breytenbach, Breyten Breytenbach se dogter, tydens ’n huldeblyk aan haar pa in Wellington. Dié woorde was die inspirasie vir Belofte van vere, ’n bekroonde vollengte-produksie wat van 10 Maart tot 15 Maart by AfriForum Teater op die planke is. Dit is ’n woordkuns- en musiekproduksie wat bestaan uit opnames van Breyten se eie voorlesings, asook van sy gewildste gedigte en besonderse toonsettings – alles saamgeweef om ’n betowerende teaterervaring te skep.
Kom saam op reis met uitmuntende kunstenaars – woordenaars, akteurs, musikante – en beleef die beste van Breyten, die allemansdigter wat tot die menigte kon spreek in gedigte soos “Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsduif, “Mag die bome groen bly” en “Slaap klein beminde”. Die bekroonde Rolanda Marais en Eben Genis is die spil waarom alles draai en net soos ervare akteurs kan, beeld hierdie paar die intieme verhouding tussen pa en dogter uit, te midde van al die verwikkeldheid rondom sy wêreldwye roem, berugtheid, aktivisme en taaldebatte.
Die teaterkenner Diane de Beer sê sy het geweet sy gaan deur dié produksie getransformeer wees. “Hierdie opwindende, begaafde kunstenaars sou weet hoe om Breyten Breytenbach te vertolk, sonder fieterjasies en truuks. Enigiets anders sou oorbodig wees. Vir my was hierdie ’n viering van Breytenbach en ek is oortuig hy sou geëerd wees.”
Op sy beurt sê Fränzo Friedrich van Momentum dat Breyten grensloos was. “Om só ’n ikoniese digter se werk op só ’n kreatiewe manier ten toon te stel sit nie in enigeen se broek nie. Welgedaan aan die hele span wat Breyten laat voortleef in ons harte.”
Die produksie het drie Aardklop 2025-benoemings ontvang: Rolanda Marais vir beste aktrise, beste nuutgeskrewe teks en beste regie.
Met: Rolanda Marais en Eben Genis (stemkuns), Ilse Klink (stemkuns en sang), Concord Nkabinde (baskitaar), David Klassen (tromme), Leon Gropp (kitaar en sang) en Laurinda Hofmeyr (klawers en sang).
Teks: Breyten Breytenbach en Daphnée Breytenbach.
Teksverwerking: Saamgestel en aangepas vir die verhoog: Anna Davel.
Artistieke regisseur: Anna Davel.
Spelleiding en produksie-ontwerp: Philip Rademeyer.
Musiekregie: Laurinda Hofmeyr.
Produksie- en verhoogbestuurder: Anria Roux.
Vervaardiger: Alexa Strachan vir Momentum Aardklop.
Moontlik gemaak deur: AK21.
Ondersteun deur: NATi.



