|

AfriForum skep hoop met skoonmaakprojek by Heatherdale-begraafplaas

AfriForum se Noord van die Berg-tak het met grassnyers en welwillende harte die Sonskyn op hul grafte-projek by die Heatherdale-begraafplaas in Akasia die afgelope naweek voortgesit. Wat in Junie begin het as ’n skoonmaakaksie, het vinnig in ’n simbool van gemeenskapstrots en hoop verander. Van jong kinders tot bejaardes het hul hande Saterdag (30 Augustus) vuil gemaak om grafte by hierdie begraafplaas op te knap.

Dié begraafplaas was vir jare lank vervalle voordat AfriForum begin het om grafte skoon te maak, paadjies wat toegegroei was weer oop te sny en rommel te verwyder. Die terrein word met elke skoonmaakaksie weer in ’n waardige plek omskep wat vir die gemeenskap maklik toeganklik is om hul geliefdes se nagedagtenis te eer.

“AfriForum sal nie toelaat dat die geskiedenis wat in hierdie begraafplaas vasgevang is, vergeet of verwaarloos word nie. Die burgerregteorganisasie vat daarom eienaarskap van die omgewing en help bou aan ’n toekoms waarop almal trots kan wees,” sê Ruan Janse van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak.

AfriForum se Noord van die Berg-tak werk die afgelope tyd onverpoos om Akasia en die omliggende gebiede op te knap. Met behulp van vrywilligers, ’n toegewyde buurtspan en die ondersteuning van AfriForum-lede, word parke, strate en openbare ruimtes stelselmatig skoongemaak en verbeter. Hierdie is meer as net skoonmaakaksies, dit is ’n openbare verklaring van gemeenskapstrots.

“Ons kan nie wag vir iemand anders om die werk te doen nie. Hierdie AfriForum-projek wys dat gewone mense, wanneer hulle saamstaan, buitengewone dinge kan regkry. Ons bou ’n veilige, skoner en mooier omgewing vir ons kinders en hul kinders,” sê Juanita van der Walt, projekleier en sekretaris van die Noord van die Berg-tak.

AfriForum se Noord van die Berg-tak nooi inwoners uit om deel te word van hierdie beweging. Elke hand help. Deur betrokke te raak of ’n bydrae te maak, help jy om jou buurt in ’n plek te omskep waarop jy trots kan wees. Besoek www.wordlid.co.za om hierdie pogings te ondersteun.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf