AfriForum se teenboelieveldtogspan bring boodskap van hoop na Bronberg Akademie
AfriForum se Teenboelieveldtogspan het verlede week 159 leerders aan Bronberg Akademie in Olympus besoek saam met sy gelukbringer, Matteus, om ’n boodskap van hoop, respek en bemagtiging te bring. Die burgerregteorganisasie se teenboelieveldtog beywer om deur bewusmaking oor die gevare van boeliegedrag ’n blywende impak op skoliere te maak.
“Bewusmaking oor boeliegedrag in skole help om ’n veilige en inklusiewe leeromgewing te skep waar alle leerders gerespekteer en gewaardeer voel. AfriForum se boodskap bemagtig leerders om boeliegedrag te herken, te voorkom en gepas daarop te reageer, wat hul selfvertroue en emosionele welstand bevorder. Deur bewustheid te skep, kan skole proaktiewe stappe neem om boelie-voorvalle te verminder en ’n kultuur van respek en samehorigheid te bevorder,” sê Kathy Botha, ’n assistent-onderwyser vir die skool se gr. 4 en 5’s.
AfriForum se teenboelieveldtogspan bemagtig al vir die afgelope agt jaar skole landwyd met sy teenboeliepraatjies. Die praatjies help nie net om hoop te skep nie, maar moedig ook kinders aan om mekaar met die nodige wedersydse erkenning en respek te hanteer.
“Hierdie veldtog maak ’n positiewe bydrae tot die veiligheid van die gemeenskap deur die boompies te buig terwyl hulle nog jonk is – die jeug is immers ons toekoms,” sê Tania Scheepers, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die Noordstreek en aanbieder van die teenboeliepraatjies.
Studies het al bevind dat diegene wat gedurende adolessensie geboelie word, later meer geestesgesondheidsprobleme ervaar, insluitend interne (soos depressie) en eksterne (soos aggressie) probleme. Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.