Laeveld-buurtwagte
|

AfriForum se Nelspruit-buurtwagte reageer op twee inbrake tydens massapatrollie

Die AfriForum-buurtwagte in Mbombela, Witrivier en Machadodorp het op 11 April aan die organisasie se nasionale patrollie deelgeneem. Die doel van die massapatrollie is om misdaad te voorkom en  sigbare teenwoordigheid in gemeenskappe te verhoog.

Gedurende die patrollie het die drie buurtwagte altesaam meer as 750 km in hul onderskeie gebiede afgelê. Die Nelspruit-buurtwag het ook op twee inbrake gereageer – een op Uitkyk en ’n ander op The Rest. Danksy die buurtwag se vinnige reaksie kon die verdagtes slegs met ’n minimale hoeveelheid items wegkom en is verdere skade of bedreiging doeltreffend voorkom.

“Ons is trots op ons toegewyde lede wat doeltreffend en professioneel gereageer het op noodroepe vanuit die gemeenskap tydens die inbrake, dit is ‘n bewys dat die lede se opleiding van kardinale belang is vir ons struktuur,” sê André Keun, AfriForum se buurtwagleier van die Uitkyk/Claremont-plaaswag in Mbombela. “Hierdie patrollie het gewys wat moontlik is wanneer gemeenskappe saamstaan en verantwoordelikheid neem.”

Die sukses van dié patrollie wys weereens hoe doeltreffend burgerlike betrokkenheid en gemeenskapsamewerking is in die stryd teen misdaad. Die buurtwagte werk op ’n daaglikse basis nou saam met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander veiligheidsorganisasies om inligting te deel en vinnig op noodgevalle te reageer.

“Die waarde van ’n aktiewe buurtwag lê in hul bereidwilligheid om hul tyd en energie op te offer vir die veiligheid van ander,” sê Arlo Van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld. “Ons sien gereeld hoe hierdie strukture werklik ’n verskil maak en gemeenskappe bemagtig.”

AfriForum moedig gemeenskapslede aan om by hul plaaslike buurtwagte aan te sluit en saam te werk om ’n veiliger toekoms te bou.

Soortgelyke plasings