|

Bou is nie dobbel nie

Deur Louis Boshoff, AfriForum-woordvoerder

Die Solidariteit Navorsingsinstituut het op 12 Oktober hul navorsingsverslag oor aanlyn dobbel in Suid-Afrika bekendgestel. Luidens die verslag is aanlyn dobbel – veral sportweddenskappe – ’n nuwe groot bedreiging vir die welstand van individue en gemeenskappe in die land.

Volgens algemene definisies is daar tans meer mense in die land wat aktief aanlyn dobbel as wat ’n werk het. Die meeste mense verwed maandeliks geld in die hoop dat dit hul inkomste gaan aanvul, maar die werklikheid is dat slegs ongeveer 2% van wedders méér geld wen as wat hulle verloor. Talle mense word verslaaf daaraan en dit lei dikwels tot armoede en ander maatskaplike probleme.

’n Aantal ander ondersoeke en meningstukke het al gewys op die aanlyndobbelkrisis wat in die afgelope paar jaar kop uitgesteek het. ’n Verskeidenheid moontlike oplossings is ook al bespreek. Die ekonoom Johan Fourie het selfs skertsend voorgestel dat die bedryf genasionaliseer moet word, omdat enigiets wat deur die regering bestuur word, uiteindelik in duie stort.

Voordat ons by praktiese oplossings kom, wil ek egter eers ’n treetjie terug gee en vra watter gesindheid deur aanlyn dobbel geopenbaar word en hoe dit kontrasteer met die gesindheid wat AfriForum nastreef.

Daar is minstens twee eienskappe van dobbel wat dit ’n problematiese vorm van besteding maak:

1. Dit is ’n nulsom. Jy kan slegs soveel wen as wat iemand anders verloor. Die munt kan nie op kop en stert tegelyk land nie. Die meeste weddenskapplatforms het geen ander inkomstebron as die geld wat deur gebruikers verwed word nie. Almal wat geld verwed, kan net soveel wen as wat hulle gesamentlik inbetaal het, minus die kerf wat deur die platform teruggehou word vir bedryfskoste en wins. Soos die gesegde lui: “Die huis wen altyd.” In teenstelling daarmee kan die aandeelhouers van ’n produktiewe maatskappy almal méér wen as wat hulle aanvanklik belê het. As die onderneming winsgewend bestuur word, is daar ’n verskeidenheid inkomstebronne en dít wat jy wen as aandeelhouer, hoef nie noodwendig ten koste van ’n ander se verlies te kom nie.

    2. Dit is suiwer waagspel. Hiermee word nie bedoel dat daar geen vaardigheid by betrokke is nie. Hier word net bedoel dat jy nie die uitkoms direk kan beïnvloed nie. Ja, jy kan ’n ingeligte raaiskoot neem watter rugbyspan Saterdag se wedstryd gaan wen en hoe ver hulle gaan wen, maar jy kan nie Saterdag op die veld uitdraf om die uitkoms te beïnvloed nie. Trouens, as jy een van die spelers is wat uitdraf, word jy verbied om aan die weddenskap deel te neem. In teenstelling daarmee kán jy ’n verskil maak aan die uitkoms van jou eie onderneming se planne waarin jy belê het. Daar is ook waagspel by betrokke – die ekonomiese klimaat speel immers ’n groot rol in die bepaling van die uitkoms – maar jy is nie totaal daaraan uitgelewer nie.

    Dit is belangrik om te beklemtoon dat hierdie skryfstuk nie gaan oor of dit op persoonlike vlak ’n ondeug is om aan sportweddenskappe deel te neem nie. Dit is dalk ’n belangrike gesprek, maar dit val buite die bestek van hierdie bespreking. Jy neem dalk al lank deel aan sportweddenskappe sonder dat dit enige waarneembare invloed op jou welvaart of geestesgesondheid gehad het. Die doel is nie om jou te veroordeel as jy ’n Betway-rekening het nie. Die doel is om die vraag te vra: “Wat gaan vir ’n gemeenskap ’n toekoms skep en wat nie?”

    Die kort antwoord is dat ’n gemeenskap nie sy toekoms kan oopdobbel nie, maar dit wel kan wegdobbel. Daarenteen kan ’n gemeenskap nie sy toekoms wegbou nie, maar kan dit wel oopbou.

    By AfriForum is ons lief daarvoor om onsself as bouers te beskryf en is ons geheg aan slagspreuke soos “die toekoms behoort aan die bouers” of “dié wat kan bou, bou – die wat nie kan bou nie, hernoem”. Hierdie slagspreuke is nie oorspronklik uitgedink as ’n antwoord op aanlyn dobbel nie, maar dit is tog opmerklik hoe dit lynreg verskil met die gesindheid wat aanlyn dobbel onderlê.

    ’n Gemeenskap wat meer dobbel as bou, is in wese ’n gemeenskap wat nie meer glo dat hy die uitkoms van sy toekomsdroom self kan beïnvloed nie. Dit is ’n gemeenskap wat – dalk onbewus en onuitgesproke – sy toekoms aan die noodlot oorgee.

    Dít is waarom ons prioriteit by AfriForum is om te bou. As ons bou, waag ons ook. Ons weet nie watter faktore buite ons beheer die bouwerk kan stuit nie, maar ons waag met die vaste oortuiging dat ons doelgerigte insette wel ’n invloed op die uitkoms het. Soos die digter van Psalm 90, bou ons en bid terselfdertyd: “Here, bevestig die werk van ons hande.”

    Word ’n lid

    Maak ’n donasie

    Soortgelyke plasings

    #OnsSalSelf, Ons is Afrikaners