AfriForum se Germiston-span help brand naby petrolstasie blus
AfriForum se brandspan in Germiston is die afgelope Sondag kort ná 15:00 ontbied om bystand te lewer nadat ’n brand in Osbornweg in Wadeville ontstaan het. Die vlamme het reeds ’n vragmotor en vraghouer verswelg en gedreig om wesenlike skade aan die gebied te rig, aangesien dit naby ’n petrolstasie gewoed het.
“Weens die ligging van die brand en die risiko wat dit vir die omliggende infrastruktuur ingehou het, was dit noodsaaklik om die brand so vinnig as moontlik onder beheer te bring. Die vinnige reaksie van die verskillende brandspanne en goeie samewerking op die toneel het gehelp om die brand onder beheer te bring voordat dit verder kon versprei,” sê Elzabe Pretorius, voorsitter van AfriForum se Germiston-tak.
AfriForum se Germiston-brandspan het saam met die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit se brandweer, asook die een in Germiston, op die toneel gewerk om die brand te bestry en verdere verspreiding daarvan te voorkom.
“Hierdie insident beklemtoon weereens hoe belangrik dit is dat brandbestrydingsdienste vinnig en doeltreffend moet reageer, veral wanneer ’n brand naby kritieke infrastruktuur soos ’n petrolstasie ontstaan. AfriForum se Germiston-brandspan is bereid om, waar moontlik, die nodige ondersteuning te bied en saam met ander rolspelers te werk om inwoners en eiendom te beskerm,” sê Pretorius.
AfriForum se Germiston-tak bedank die brandbestryders en ander rolspelers dat hulle vinnig op die voorval gereageer het en nie gehuiwer het om hul volle samewerking te gee nie.



