|

AfriForum-buurtwag begelei Pretoriase leerders na veiligheid

AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag in Pretoria het verlede Woensdagaand (5 Augustus 2026) in samewerking met GAC Risk Solutions en Maximum Security vier busse vol leerders van die Laerskool Wonderboom en die Hoërskool Overkruin vanaf die Staatsteater in die Pretoriase middestad terug na hul onderskeie skole vergesel om hul veiligheid te verseker.

Ruan Jansen van Vuuren, voorsitter van AfriForum se Noord van die Berg-tak en hoof van gemeenskapsveiligheid, verduidelik hoekom die buurtwag gehelp het. “Ons het verlede jaar saam met AfriForum se Brits-tak se buurtwag die eerste keer so ’n aksie aangepak waar ons ’n bus tussen twee takke vergesel het om die veiligheid van die insittendes te verseker. Dit het gevolg ná ysterpenaanvalle begin toeneem het.”

Tydens hierdie gesamentlike veiligheidsoperasie het 17 AfriForum-buurtwaglede in agt voertuie en een voertuig van elk van die twee sekuriteitsmaatskappye vanaf omtrent 20:00 tot 22:00 help toesien dat die leerders en onderwyser veilig hul bestemming bereik. Leerders het ’n revue-vertoning by die Staatsteater bygewoon in ’n deel van die stad wat deesdae selfs bedags ’n groot risiko van misdaadinsidente inhou.

“Busse en leerders is baie kwesbaar en maklike teikens vir misdadigers, maar die  teenwoordigheid van buurtwaglede en privaat sekuriteit laat misdadigers twee keer dink voor hulle iets probeer doen. Sodoende kan die leerders en onderwysers die geleentheid wat hulle bywoon ten volle geniet sonder om oor hul veiligheid te bekommer,” sê Jansen van Vuuren.

AfriForum se Noord van die Berg-tak se buurtwag het verlede week die veiligheid van leerders van die Laerskool Wonderboom en die Hoërskool Overkruin tydens ’n besoek aan die Staatsteater in Pretoria verseker.

Die Noord van die Berg-tak het onlangs ’n nuwe radiostelsel in gebruik geneem wat tydens die operasie ingespan is om buurtwaglede op strategiese posisies om die teater te plaas. Die radiostelsel is ook aangewend om verkeer te help reguleer en doeltreffende kommunikasie tydens die rit tot by die skole tussen buurtwaglede te bewerkstellig.

“Hierdie operasie is ’n manier waarop ons kan teruggee aan die gemeenskap. Ons besef hoe belangrik ons kinders vir die toekoms is. Hul veiligheid is ononderhandelbaar. Ons hoop ook dat die voorbeeld wat ons stel, na hulle sal oorloop,” sluit Jansen van Vuuren af.

Johan Fivaz, departementshoof vir Natuurwetenskap en Tegnologie by Laerskool Wonderboom, sê leerder en onderwysers voel veel veiliger met AfriForum se buurtwag wat teenwoordig is. “Met die huidige stand van geweld, misdaad en bedrog in ons land, voel ons net veiliger met AfriForum wat ons vergesel. Pretoria se middestad het so agteruit gegaan dat personeel permanent bekommerd is oor die veiligheid van ons leerders, veral in die aand. Baie dankie aan AfriForum vir die veilige begeleiding van ons leerders en personeel vanaf die Staatsteater terug skool toe.”

Ander skole in die omgewing is welkom om die Noord van die Berg-tak te kontak om te help om die veiligheid by hul geleenthede op te skerp. Rig ’n e-pos aan voorsitter.nvdb@afriforumtak.co.za om met die tak kontak te maak.

Word ’n lid

Maak ’n donasie

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Veiligheid