Nuuskommentaar: Immigrantedispuut – Die oplossing begin by die grensdraad
Deur Louis Boshoff, woordvoerder by AfriForum
Suid-Afrika is in rep en roer oor immigrante – dis nie altemit nie. Eintlik is Europa en Amerika ook in rep en roer oor immigrante, maar met belangrike verskille van die plaaslike fenomeen. In laasgenoemde gevalle is dit Westerlinge wie se Westerse leefwyse bedreig word deur die toestroming van immigrante vanuit ander wêrelddele. In eersgenoemde geval is dit Suid-Afrikaanse burgers wat gegrief is deur die toestroming van burgers van hul buurlande. In Europa en Amerika se geval is dit primêr ’n botsing van beskawingsidentiteite, terwyl dit in Suid-Afrika se geval primêr ’n botsing van nasionale identiteite is. Die Weste se krisis word gedryf deur empatiese selfdoodneigings en Suid-Afrika s’n word bloot veroorsaak deur gebrekkige grensbeheer. Ekonomiese en arbeidskwessies is ’n gemene deler tussen dié twee verskynsels, maar steeds met onderlinge verskille.
Die immigrantedispuut in Suid-Afrika dryf ideologiese uitgangspunte oor beskawing, nasie en volk op die spits. Daar is die Pan-Afrikaniste, met die EFF aan die voorpunt, in wie se oë die Afrika-beskawingsidentiteit voorop staan en wat swart immigrante in alle opsigte as gelykes van Suid-Afrikaanse burgers wil hanteer. Daar is dié wat die Suid-Afrikaanse nasionale identiteit voorop stel (ActionSA, byvoorbeeld) en dié vir wie die stam- of volksidentiteit grondliggend is (MK-party en Patriotic Alliance – alhoewel hulle dit nie noodwendig self so verwoord nie). Laasgenoemde twee groepe het heelwat oorvleueling en albei het oor die afgelope maande toenemend aangedring dat immigrante moet landuit, veral onder leiding van die organisasie March and March. Die ANC probeer ’n balans handhaaf tussen hierdie groepe se sienings, maar verkeer duidelik onder druk om sterker optrede teen immigrante toe te laat.
Die impak op die beskikbaarheid van arbeid en werksgeleenthede staan sentraal tot die sterkste pro- en anti-immigirantesentimente wat tans in Suid-Afrika heers. Veral werklose Suid-Afrikaners is gegrief deur die indiensneming en entrepreneuriese aktiwiteite van immigrante in hul onderskeie omgewings terwyl talle boerderye en ondernemings se ekonomiese lewensvatbaarheid afhanklik geword het van die beskikbaarheid van bekostigbare, gewillige en vaardige buitelandse arbeid.
March and March en hul bondgenote kan maklik vasval in nulsom-denke rakende werksgeleenthede: Die idee dat ’n land net ’n vaste aantal werksgeleenthede het wat gevul kan word deur óf binnelandse óf buitelandse werknemers. Dis ’n wanindruk, maar daar steek tog op mikroskaal ’n mate van waarheid in. Die aantal werksgeleenthede in ’n ekonomie is nie in yster gegiet nie, maar is ook nie oneindig elasties nie. Soms lei die indiensneming van buitelanders tot die groei van ’n bepaalde sektor, wat uiteindelik meer werksgeleenthede vir almal tot gevolg het, maar soms is daar regtig ’n onderneming met ’n vaste aantal poste wat laasjaar ’n Suid-Afrikaner in diens geneem het en vanjaar ’n buitelander. Persone wat hul werk verloor het as gevolg van sulke verskynsels gaan nie gepaai word met vae oproepe om nie xenofobies te wees nie. Aan die anderkant moet Suid-Afrikaanse werkloses nie aanneem dat al hul probleme saam met die immigrante sou verdwyn indien dié uitgejaag word nie. Daar is dieper strukturele probleme in die plaaslike ekonomie (beleggersonvriendelike omgewing, versmorende belastingvlakke en oorregulering, ens.) en dikwels werklike onwilligheid om hard te werk te midde van aandrang op groter staatswelsyn.
Dus is die teenwoordigheid van immigrante in Suid-Afrika maar ’n taai toffie. Geen enkele stap gaan die hele probleem oplos en almal tevrede stel nie, maar die wegspringpunt behoort duidelik te wees: die grensdraad. Die Suid-Afrikaanse regering doen gereeld oproepe tot patriotisme, maar was tot dusvêr nie in staat om die patria deeglik te omhein nie. Ongeag of die immigrante helde of boosdoeners is – dis duidelik dat daar nie behoorlike rekord is van hoeveel ingekom het, hoe hulle ingekom het en wat hulle hier doen en mag doen nie.
Enige poging om die probleem op te los, sal moet begin by stewige grensinfrastruktuur, deeglike bestuur van grensposte, effektiewe administrasie van verblyfreg- en werkspermitaansoeke, duidelike wetgewing en beleid oor wie sulke permitte mag ontvang, die wil en vermoë om daardie wetgewing en beleid streng toe te pas en konstruktiewe samewerking met private en gemeenskapsveiligheid in die grensgebiede.
Slegs dán kan die moontlikheid ontwikkel vir ’n vreedsame ontknoping van die huidige immigrantedispuut.



