AfriForum rig noodwaterpunt in Dinwiddie op te midde van voortslepende waterkrisis
AfriForum se Germiston-tak het vandeesweek ’n noodwaterpunt in Dinwiddie opgerig met die doel om ’n daadwerklike verskil in dié gemeenskap te maak. Duisende inwoners in en om die gebied gaan tans gebuk onder voortslepende waterbeperkings, wat veroorsaak dat huishoudings verskeie aande in die week sonder water sit.
Die inwoners van Dinwiddie, Albemarle, Norton Small Farms en Castleview sukkel al sedert einde November verlede jaar met hierdie beperkings, wat toesien dat hulle op Woensdae, Saterdae en Sondae tot slegs 22:00 water beskikbaar het voordat die krane opdroog. Wadeville industriële gebied, Roodekop en Cruwagenpark het weer op Maandae, Dinsdae, Donderdae en Vrydae ook net tot 22:00 water, waarna die beperkings soms onbepaald aangaan. Dié beplande waterbeperkings is selfs van krag wanneer onbeplande wateronderbrekings veroorsaak dat inwoners deur die dag geen water het nie. Dit beteken dat gebiede soms vir dae lank sonder water sit.
In dié areas is daar twee hoërskole, wat nagenoeg 2 000 kinders elk het, een Laerskool met meer as 1 000 kinders en ’n groot naskool van sowat 220 kinders. Dan word die Sonskyn-tehuis, wat 55 bejaardes huisves, boonop ook hierdeur geraak.
Die plaaslike regering se pogings om watertenkwaens op strategiese punte te plaas, is onvoldoende om aan die groeiende nood van inwoners te voldoen. Daar is tienduisende individue wat deur die waterbeperkings geraak word, wat beteken dat die watertenkwaens wat in Lennoxweg (Albemarle), De Beerweg (Union), Jacobastraat (Norton Small Farms), die Dinwiddie-sportgronde, Stone Arch-woonkompleks en Albemarle-winkelsentrum geplaas is, nie genoegsame water aan die gemeenskappe kan verskaf nie.
AfriForum se Germiston-tak plaas al vir maande lank druk op die Ekurhuleni Metropolitaanse Munisipaliteit om die waterkrisis die hoof te bied. Hoewel dié oproepe grotendeels onbeantwoord gebly het, het die burgerlike samelewing saamgespan om water aan die gemeenskap beskikbaar te stel. ’n Plaaslike inwoner, Danie Putter, het ’n boorgat beskikbaar gemaak sodat AfriForum ’n noodwaterpunt daar kon oprig. Dit is by 112 Black Reefweg in Dinwiddie geleë. Putter het boonop ’n kragbron beskikbaar gemaak wat die betroubaarheid van die punt verseker tydens noodgevalle.
“Die oprigting van hierdie noodwaterpunt is nie net ’n reaksie op ’n krisis nie – dit is ’n verklaring van hoop en die eerste stap tot selfstandigheid,” sê Nadia Olckers, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand. “AfriForum se Germiston-tak het lank reeds besef dat daar nie gewag kan word op die munisipaliteit om ons gemeenskap se probleme op te los nie. Hierdie waterpunt is ’n voorbeeld van hoe gemeenskappe self oplossings kan skep – met durf, medemenslikheid en die regte vennootskappe.”
AfriForum het die projek gefasiliteer en sal voortgaan om soortgelyke oplossings regoor Germiston en die res van die Oos-Rand te help vestig. Inwoners word aangemoedig om gebruik te maak van die waterpunt, wat nou volledig funksioneel is.
Raak vandag nog betrokke by inisiatiewe wat volhoubaar ’n verskil kan maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.